BreytenbachsBreytenbachs

English|Afrikaans
info@breytenbachs.com
Thu, 11/3/2010

Nuus

Verhoging in Britse 'Home Office' Immigrasie fooie  - 08/03/2010

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat nuwe immigrasie fooie in werking gaan tree vanaf Dinsdag, 6 April 2010.

Breytenbachs beveel alle kliënte aan wat vir enige tipe permit of visum wil aansoek doen en die prysverhoging wil vryspring, om onverwyld met ons in aanraking te tree.

Beskikbaarheid van verbande neem toe - 08/03/2010

Die BBC het berig dat syfers van die finansiële dienste-firma Moneyfacts daarop dui dat die beskikbaarheid van verbande vir huiskopers toegeneem het oor die afgelope jaar.

In die begin van Maart 2010, was daar 1,798 tipe verbandlenings beskikbaar wat 'n deposito van tussen 0 en 40% vereis het. Dit is 68% meer as 'n jaar gelede en 'n verbetering van 6% op die vorige maand.

'n Woordvoerder van Moneyfacts het aan die BBC gesê dat daar 'n toenemende hoeveelheid verbandleners is wat meer akkommoderend is ten opsigte van hul krediet kriteria en dat dit goeie nuus is vir verbruikers. Die woordvoerder het ook gesê dat die rentekoerse saam met die deposito wat vereis word verlaag. 

Britse rentekoerse onveranderd  - 04/03/2010

Die BBC het berig dat die Bank van Engeland rentekoerse op die rekord lae vlak van 0.5% gehou het vir die twaalfde maand in 'n ry.

Die Bank het ook besluit om nie enige verdere geld vry te stel in die Britse ekonomie ingevolge sy kwantitatiewe beleid nie, aangesien die beplande £200 biljoen reeds spandeer is.

Gesondheisversekering dalk 'n vereiste vir besoekers aan die VK - 27/02/2010

Die BBC het berig dat as voorstelle deur die Departement van Gesondheid aanvaar word, besoekers aan die VK moontlik gesondheidsversekering sal moet uitneem alvorens hulle die VK kan besoek.

Die voorstel is skynbaar 'n poging deur die Britse regering om te voorkom dat mense die VK binnekom vir mediese behandeling en dan nie daarvoor betaal nie. In 'n ander immigrasie dokument word daar ook voorgestel dat toegang tot die VK geweier kan word aan persone wat die VK geld skuld vir vorige mediese behandeling wat hulle ontvang het.

Volgens die NHS word daar jaarliks meer as £25miljoen spandeer aan mediese behandeling van oorsese besoekers, waarvan ongeveer £5 miljoen afgeskryf moet word.

Indien die voorstelle aanvaar word, sal die NHS 'n lys van migrante wat nie vir mediese dienste betaal het nie, verskaf aan immigrasie-amptenare van later vanjaar af. Die migrante sal dan toegang tot die VK geweier word, alvorens hulle hul skuld vereffen. Die voorstel sal nie oorsese besoekers van die Europese Ekonomiese area en ander lande met wie die VK gesondheidsooreenkomste het raak nie.

Immigrasie uit Oos-Europa neem steeds af - 26/02/2010

Syfers van die Kantoor van Nasionale Statistiek dui daarop dat immigrante uit Sentraal en Oos-Europa steeds afneem.

In die jaar tot Junie 2008, was daar 100,000 nuwe aankomelinge uit die lande, in vergelyking met 68,000 in die jaar tot Junie 2009. Immigrasie uit die lande het dus met 'n derde afgeneem in 'n tydperk van 'n jaar.

Ander syfers toon dat meer as 500,000 mense na die VK gekom het in die jaar tot Junie 2009. In dieselfde tydperk het sowat 370,000 mense die VK verlaat, wat die netto toename in die bevolking vir die tydperk te staan bring op 147,000.

Die hoeveelheid mense wat aansoek gedoen het vir Britse burgerskap het met sowat 'n derde gestyg in die laaste kwartaal van 2009, 'n syfer van 51,315.

Die BBC het berig dat die Minister van Immigrasie, Phil Woolas gesê het dat die syfers wys dat Brittanje nie meer 'sag' is oor immigrasie nie.

Owerheidsyfers wys dat huispryse gestyg het met 2.9% - 17/02/2010

Volgens die nuutse verslag van die Britse 'Department for Communities and Local Government' (DCLG) oor huispryse, het pryse in die VK met 2.9% gestyg in die jaar 2009. Volgens die verslag het pryse nou gestyg vir die agste maand in 'n ry. 

Die BBC het berig dat die hoof-ekonoom by Global Insight gesê het dat feitlik alle huisprys-indekse, insluitende die een deur die DCLG, toon dat huispryse 'n trog bereik het in die eerste maande van 2009 en sedertien verbeter het. Hy het verder gesê dat die oplewing in huispryse sedert die vroeë maande van 2009 'n direkte gevolg is van groter bekostigbaarheid en verlaagde rentekoerse.

Studente visum aansoeke van Noord-Indië, Nepal en Bangladesh opgeskort - 30/01/2010

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat hulle tydelik alle studente visum aansoeke uit Noord-Indië, Nepal en Bangladesh opgeskort het.

Dit volg nadat daar 'n dramatiese toename in studente visum aansoeke uit die lande was in die laaste drie maande van 2009, vergeleke met dieselfde periode in 2008. Volgens amptenare was die stelsel oorweldig deur die hoeveelheid aansoeke en was daar kommer oor die egtheid van sommige aansoeke.

Die BBC het berig dat immigrasie-prokureurs gesê het dat die aankondiging bona fide studente gaan benadeel, aangesien hulle nie betyds na die VK sal kan kom om hul kursusse by te woon nie.

Strenger studente visum reëls tree binnekort in werking - 10/02/2010

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat vanaf 3 Maart 2010 strenger reëls in werking gaan tree vir nie-Europese studente. Alle Vlak 4 aansoeke wat ingehandig word op of na hierdie datum sal onderworpe wees aan die nuwe reëls. Volgens die Britse 'Home Office' word hierdie streng nuwe reëls geïmplementeer om die misbruik van die Vlak 4 te verhoed.

Die nuwe reëls geld nie vir studente wat na die VK kom om 'n 'foundation degree' en kursussse op graad-vlak of hoër te studeer nie. Kinder studente by onafhanklike skole word ook vrygestel van die nuwe reëls.

Vir studente wat kursusse onder hierdie vlak studeer sal die volgende reëls geld;

  • Die ure wat 'n student toegelaat word om te werk tydens die termyn, word gehalveer van 20 ure per week na 10 ure per week;
  • Studente op kursusse van ses maande of korter, word nie toegelaat om enige afhanklikes na die VK te bring nie;
  • Studente se afhanklikes sal nie toegelaat word om in die VK te werk nie, tensy hulle uit eie reg vir 'n visum aansoek doen wat hul toelaat om te werk nie.
  • Visums vir kursusse onder graad-vlak met 'n werksplasing sal alleenlik toegestaan word indien die instansie op 'n nuwe register verskyn. Die 'Highly Trusted Sponsors List. Die reël tree in werking op 6 April 2010.
  • Die minimum vlak waarvoor ingeskryf kan word vir 'n Engelse taalkursus moet soortgelyk wees aan die GCSE standaard.

Vir verdere inligting hieroor, of om aansoek te doen vir 'n studente visum, kontak gerus een van ons adviseurs by info@breytenbachs.com. Ons help graag!

Veranderinge aan studente visum aansoeke vanaf Februarie - 25/01/2010

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat, vanaf 22 Februarie 2010, studente wat wil aansoek doen vir 'n studente visum ingevolge Vlak 4 van die punte-gebaseerde stelsel 'n bevestiging van die aanvaarding van hul studies (confirmation of acceptance of studies (CAS)) moet hê van die opvoedkundige instansie waar hulle beoog om te studeer.

Vanaf 22 Februarie 2010 sal alle studente visum briewe vervang word met CAS, die elektroniese stelsel. Aansoekers sal deur die opvoedkundige instansie waar hulle beoog om te studeer uitgereik word met 'n CAS verwysingsnommer, pleks van 'n fisiese studente visum brief.

Vanaf 22 Februarie sal studente visum briewe nie meer aanvaar word nie, selfs al is dit uitgereik voor 22 Februarie 2010.

Rentekoerse gehou op 0.5% - 08/01/2010

Die Bank van Engeland het besluit om die Britse rentekoers bestendig te hou op die rekord lae vlak van 0.5%.

Rentekoerse is reeds sedert Maart 2009 op die vlak. Die BBC het berig dat ekonome nie verwag dat die Bank van Engeland die rentekoerse sal opstoot in die nabye toekoms nie.

Die Bank het ook sy kwantitatiewe beleid bestendig gehou op £200 biljoen. Volgens die BBC word daar gereken deur ontleders dat die resessie in Brittanje sy einde bereik het in die laaste kwartaal van 2009.

Halifax rapporteer eerste jaarlikse verhoging in huispryse - 08/01/2010

Die BBC het berig dat syfers van die Halifax toon dat Britse huispryse 1.1% hoër was in Desember 2009 as 'n jaar tevore. Dit is volgens Halifax die eerste jaarlikse toename sedert Maart 2008.

Die groep voorspel egter dat die pryse van eiendom redelik plat gaan wees in 2010, weens die huidige ekonomiese vooruitsig. Volgens 'n ekonoom by die groep sal die vooruitsigte vir die huismark in 2010 afhang van hoe die Britse ekonomie ontwikkel en of daar 'n noemenswaardige toename is in die hoeveelheid huise wat te koop aangebied word.

Veranderinge aan reëls oor Burgerskap  - 07/01/2010

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat die volgende veranderinge aan die wet op Britse burgerskap in werking tree op 13 Januarie 2010;

1. Kinders gebore van ouers in die Britse gewapende magte
Kinders wat oorsee gebore word na 13 Januarie kan geregistreer word as Britse burgers indien hulle kinders is van lede van die Britse gewapende magte wat Buitelandse- of Statebondsland burgers is, die ouer buite die VK diens gedoen het ten tyde van die geboorte en beide ouers toestemming verleen tot die registrasie.

2. Kinders gebore van Britse burgers deur herkoms
Na 13 Januarie 2010, sal kinders van Britse burgers deur herkoms geregistreer kan word as Britse burgers, indien 'n aansoek gedoen word op enige tydstip voor die kind se 18de verjaarsdag.

3. Britse oorsese burgers met geen ander burgerskap of nasionaliteit
Britse oorsese burgers kan registreer as Britse bugers indien hulle geen ander burgerskap of nasionaliteit het nie. 'n Persoon sal egter nie kwalifiseer indien hy/sy iets gedoen het na 19 Maart 2009 wat daartoe gelei het dat hy/sy haar ander nasionaliteit verloor het nie.

4. Kinders van Britse moeders
Na 13 Januarie 2010, sal 'n persoon met 'n Britse ma die reg hê om te registreer as 'n Britse burgers indien hulle Britse burgerskap met geboorte sou gekry het, indien vrouens die reg gehad het om Britse burgerskap oor te dra, soos mans.

Die wet het ook verander sodat enigeen wat in die VK gebore word na 13 Januarie 2010 en 'n ouer het wat dien in die Britse gewapende magte outomaties Britse burgerskap ontvang. 'n Kind wat van so 'n ouer gebore is voor die datum, sal ook 'n Britse burger wees.

Intra-maatskappy oordrag roete vir Vlak 2 migrante - 06/01/2010

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat hullle die tydperk ingevolge waarvan 'n persoon kan kwalifiseer vir 'n intra-maatskappy oordrag gaan verhoog van ses na twaalf maande. Die kategorie sal ook voortaan nie lei tot permanente verblyf in die VK nie.

Die veranderinge sal in werking gestel word in die Britse Lente van 2010. Geen spesifieke datums is nog verskaf nie.

Afgelope dekade die sterktste op rekord vir huispryse - 31/12/2009

Die BBC het berig dat syfers van die Nationwide Bougenootskap toon dat Britse huispryse met 5.9% gestyg het in 2009. Dit is in skerp kontras met die 15.9%  daling van pryse in 2008. Die gemiddelde koste van huise het nou vir agt maande in 'n ry gestyg in Desember 2009. Dit bring die gemiddelde huisprys te staan op £162,103.

Nationwide voorspel egter dat daar nie 'n noemenswaardige verandering in huispryse gaan wees in 2010 nie.

Volgens Nationwide, ten spyte van die resessie, was die afgelope dekade die sterkste op rekord vir huispryse. Die waarde van eiendom het gestyg met 117% sedert die einde van 1999. Indien inflasie in berekening gebring word, het die gemiddelde huis se waarde met 68% gestyg oor die afgelope dekade.

Beleidsverandering oor geregtelike heroorwegings - 16/12/2009

Die 'Border Agency' het aangekondig dat dit die manier gaan verander ingevolge waarvan persone betrokke by geregtelike heroorwegings (judicial reviews) uit die VK verwyder gaan word.

Vanaf 11 Januarie 2010 gaan die volgende reëls geld;

  • Die 'Border Agency' sal voortgaan om 'n persoon uit die VK te verwyder waar 'n vorige deportasie gefaal het, weens tegniese redes, soos byvoorbeeld vlugte wat gekanselleer is ens.

  • 'n Deportasie sal nie outomaties afgestel word indien 'n aansoek van geregtelike heroorweging gemaak word  nie, indien die saak berus op grond van veilige derde wêreld lande of waar dit duidelik ongegronde redes is nie. In sodanige gevalle sal ten minste vyf dae se kennis van die deportasie gegee word.

  • 72 uur se kennis van deportasie sal nie outomaties gegee word aan persone wat geag word ontwrigting veroorsaak of die veiligheid van ander bedreig nie.

Kontak Breytenbachs gerus vir verdere inligting.

Jongste veranderinge in immigrasie reëls - 11/12/2009

Die Britse 'Home Office' het die volgende veranderinge aan die immigrasie reëls aangekondig;

  • Van 1 Januarie 2010, binne die reëls vir kinder besoekers, sal daar voorsiening gemaak word vir uitruil besoeke van oorsese studente aan staats- en ander skole; en werkers wat voorheen toegelaat is tot die VK binne die reëls vir oorsese owerheidsbeamptes sal toegelaat word om van binne die VK oor te skakel na die Vlak 5 kategorie vir tydelike werkers.

  • Vanaf 22 Februarie 2010, sal die finale fase vir die uitrol van Vlak 4 vir studente geïmplementeer word. Vanaf hierdie datum sal Vlak 4 migrante 'n elektroniese bewys van toelating tot hul studies moet lewer om punte te kan verdien om te kwalifiseer om aansoek te doen om te studeer in die VK.

Identiteitskaarte nou ook verpligtend vir Vlak 2 migrante en hul afhanklikes - 11/12/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat vanaf 6 Januarie 2010, geskoolde migrante en hul afhanklikes 'n identiteitskaart vir oorsese burgers gaan ontvang indien hulle suksesvol is in hul aansoek vir 'n Vlak 2 visum.

Alle Vlak 2 aansoeke wat van binne die VK gemaak word op of na 6 Januarie 2010, moet vergesel wees van die aansoeker se biometriese inligting. Die biometriese inligting sluit in vingerafdrukke en 'n foto van die gesig van die aansoeker.

Volgens die Britse 'Home Office' is die identiteitskaarte 'n eenvoudige manier om die houer se nasionaliteit, identiteit en immigrasie-status te bevestig, en kan ook gebruik word om te toon of die persoon die reg het om wettiglik in die VK te woon en werk. Dit sal ook die oorsese burger help om toegang te kry tot openbare dienste.

Kontak gerus ons kantore vir verdere inligting.

Rekord getal buitelanders in die VK - 08/12/2009

Die BBC het berig dat syfers van die Britse Kantoor vir Nasionale Statistiek daarop dui dat die hoeveelheid mense van oorsee wat in die VK bly 'n rekord hoogtepunt van 6.7miljoen bereik het in 2008.

Syfers toon dat 11% van mense in die VK oorsee gebore is en dat ongeveer 25% van die geboortes in Engeland en Wallis in 2008 die van oorsee-gebore vrouens was. Die agentskap se statistiek voorspel dat die VK se bevolking met omtrent 10miljoen gaan styg in die volgende 25 jaar en dat daar 71.6mijoen mense in die VK gaan wees in 2033.

Die Minister van Immigrasie Phil Woolas het in sy reaksie gesê dat die syfers nie die hoeveelheid immigrante wat terugkeer huistoe in ag neem nie en dat vorige skattings van bevolkingsgroei baie onakkuraat was.

MAC keur Vlak 1 vir hoogs geskoolde migrante goed - 05/12/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat die 'Migration Advisory Committee' (MAC) hul oorsig van Vlak 1 van die punte-gebaseerde immigrasie stelsel voltooi het. Die MAC verslag het bevind dat Vlak 1 oor die algemeen baie goed werk.

Dit het inter alia ook die volgende aanbeveel vir Vlak 1 (Algemeen) vir hoogs geskoolde werkers;

Die salaris vermenigvuldigers, wat gebruik word om vorige inkomstes buite die VK om te skakel na die Britse ekwivalent moet indringend hersien word;
Dat migrante met 'n graad, maar geen meestersgraad toegelaat word om na die VK te kom as hoogs geskoolde migrante, indien hul vorige verdienste hoog genoeg is;
Dat professionele kwalifikasies (soos in die vakrigtings regte en rekeningkunde) as
ekwivalent aan 'n meestersgraad geag word;
Dat migrante met 'n vorige jaarlikse verdienste van ten minste
£150,000 nie aan die opvoedkundige kwalifikasies hoef te voldoen nie;
Dat migrante onder die ouderdom van 39 jaar punte moet verdien vir hul ouderdom;
Dat suksevolle aansoekers aanvanklik toegelaat moet word om na die VK te kom vir twee jaar, eerder as die huidige drie jaar, met 'n verdere verlenging van drie jaar indien hulle in hoogs geskoolde poste is.

Die MAC het ook aanbeveel dat die Vlak 1 (Nagraadse werk) roete vir migrante wat in die VK wil werk na afloop van hul studies in die VK moet voortgaan, aangesien dit ekonomiese voordele vir die VK inhou. Daar word egter aanbeveel dat die Britse regering ondersoek moet instel of alle kursusse en opvoedkundige instansies oor dieselfde kam geskeer moet word. 

MAC besorg oor twee-jaar werk visums vir gegradueerdes - 05/12/2009

Die BBC het berig dat die 'Migration Advisory Committee' (MAC) gesê het dat hulle besorg is oor die feit dat nie-Europese studente 'n twee-jaar werk visum kan kry nadat hulle afgestudeer het, ongeag die standaard van die onderrig of die graad. Die MAC het gevra dat die reëls heroorweeg word.

In die laaste akademiese jaar, is werk-visums aan 42,000 studente gegee wat afstudeer het, ingevolge die reëls van die nagraadse werksroete van Vlak 1 van die punte-gebaseerde immigrasie-stelsel.

Die hoof van MAC het gesê dat daar gekyk moet word na al die instansies om te sien of dit wettig is vir al die studente wat daar studeer om te kwalifiseer vir die tipe visum.

Die Britse regering het in reaksie gesê dat hul die MAC se verslag sal oorweeg.

Styging in immigrante na Brittanje - 27/11/2009

Die BBC het berig dat syfers van die Kantoor vir Nasionale Statistiek in die VK daarop dui dat immigrasie na die VK weereens gestyg het in 2008. In die jaar het sowat 590,000 mense na Brittanje gegaan, in vergelyking met 574,000 in die jaar 2007.

Nietemin het meer mense die VK verlaat ook. In 2008, het 427,000 mense die VK verlaat in vergelyking met 341,000 in 2007.

Dit bring die netto migrasie na die VK (die verskil tussen die hoeveelheid mense wat na die VK kom en die VK verlaat) te staan op 163,000. Dit is 70,000 laer as vir die jaar 2007.

Die Britse minister van Immigrasie, Phil Woolas het in sy reaksie op die syfers gesê dat die die daling in netto migrasie daarop dui dat migrante na die VK gaan vir kort periodes om te werk, by te dra tot die ekonomie en dan terugkeer na hul lande van herkoms.

Vingerafdrukke nou nagegaan by immigrasie-beheer - 26/11/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat vanaf 30 November 2009 hulle vingerafdrukke gaan nagaan van migrante met biometriese visums of identiteitskaarte wat die VK binnekom.

Die passasiers se vingerafdrukke sal geskandeer word met hul aankoms in die VK. Afgesien hiervan sal die gewone roetine-ondersoeke ook gedoen word. Die skanderings word gedoen om seker te maak dat die persoon wat die VK binnekom, dieselfde persoon is as wat aansoek gedoen het vir die visum of identiteitskaart.

Arbeidsmark toets word verleng - 25/11/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat vanaf 14 Desember 2009 die arbeidsmark toets vir Vlak 2 migrante (alle poste), verleng gaan word na vier weke. Dit gaan die huidige vereiste vervang om vir slegs twee weke te adverteer, of een week waar die salaris £40,000 of meer is.

Die verandering is voorgestel deur die Migrasie Advies Komitee in hulle Vlak 2-verslag in Augustus 2009 en is ten volle goedgekeur deur die regering in September 2009.

Die reël verandering gaan eers van toepassing wees op advertensies wat geplaas word op of na 14 Desember 2009. Werkgewers wat voor die datum hul advertensies begin hardloop het, hoef nie weer te adverteer om aan die nuwe vereistes te voldoen nie.

Om 'n mate van buigsaamheid te bied aan werkgewers, hoef die advertensie nie aaneenlopend te hardloop nie. Dit beteken dat 'n werkgewer byvoorbeeld vir twee weke die pos kan adverteer en as 'n EU-burger binne die tyd gevind word vir die pos, dan is dit nie nodig om verder te adverteer nie. Alvorens 'n nie-EU burger egter aangestel mag word, moet die advertensie vir vier weke in totaal gehardloop het.

Kontak ons gerus vir verdere inligting.

Belangrike kennisgewing aan alle Vlak 2 migrante en afhanklikes - 06/11/2009

Die Britse 'Home Office' het aanbevelings aanvaar van die 'Migration Advisory Committee' in September vanjaar, wat 'n groot impak gaan hê op toekomstige Vlak 2 migrante en hul afhanklikes wanneer die nuwe reëls geïmplementeer word vanaf Januarie 2010.

Breytenbachs adviseer werkgewers van toekomstige Vlak 2 migrante om voor te berei vir die veranderinge in reëls en waar moontlik aansoeke vir die tipe visa te bespoedig om die nuwe reëls vry te spring.

Veranderinge aan Vlak 2 wat in werking gaan tree vanaf Januarie 2010 sluit in;

  • Die tydperk waarbinne 'n persoon by 'n maatskappy kan kwalifiseer vir 'n intra-maatskappy oorplasing word verleng van ses maande na twaalf maande.

  • Werknemers wat gebruik maak van die intra-maatskappy oorplasing roete sal nie meer kwalifseer vir permanente verblyf of burgerskap nie. Waar dit vir 'n persoon 'n belangrike faktor is, word aanbeveel dat ander alternatiewe ondersoek word.

  • Vakante poste sal in die toekoms vir vier weke adverteer moet word, waar dit tans een of twee weke is, alvorens 'n Vlak 2 migrant in die pos aangestel kan word.

  • Die minimum salaris en vergoedingspakket drempel om te kwalifiseer vir 5, 10, 15 en 20 punte onder Vlak 2 word verhoog na £20,000, £24,000, £28,000 en £32,000 onderskeidelik.

  • Toegewings in vergoedingspakkette gaan afgeskaal word wanneer punte bereken word in die inkomste kategorie. 

Breytenbachs beveel aan dat alle werkgewers wat Vlak 2 migrante binne die volgende paar maande wil aanstel om onverwyld met Breytenbachs in aanraking te tree, sodat aansoeke ingedien kan word voor die strenger reëls en regulasies in werking tree.

Huispryse styg vir die vierde maand in 'n ry - 04/11/2009

Die BBC het berig dat syfers van Halifax toon dat huispryse vir die vierde maand in 'n ry gestyg het in Oktober 2009, toe dit met 1.2% gestyg het. Dit bring die gemiddelde prys van 'n huis nou te staan op £165,528.

Volgens 'n ekonoom by Halifax, het Britse huispryse met 2,9% gestyg sedert die einde van 2008 en is nou 7.1% hoër as ses maande gelede (April 2009) toe pryse 'n laagtepunt bereik het.

Volgens Halifax het pryse gestyg weens 'n kombinasie van verhoogde vraag na huise en 'n verlaagde aanbod van huise. Die vraag na huise is gestimuleer deur die baie lae rentekoers, afname in eiendomspryse sedert die Britse somer van 2007 en 'n toename in verbruikersvertroue weens die beter ekonomiese vooruitsigte.

Die Halifax verwag dat huisverkope verder sal styg in die komende maande.

Vlak 2 migrante uitgereik met identiteitskaarte vanaf 2010 - 03/11/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat hul nou meer as 100,000 identiteitskaarte uitgereik het aan oorsese burgers, meesal migrante wat hul verblyf verleng het as studente of afhanklikes.

Vanaf Januarie 2010, sal migrante van buite die Europese Unie uitgereik word met identiteitskaarte wanneer hul aansoek doen om verlenging van hul verblyf vir meer as ses maande ingevolge Vlak 2 van die punte-gebaseerde immigrasie-stelsel. Dit beteken dat hul nou ook vingerafdruke en foto's sal moet indien as deel van hul aansoek.

Die 'Home Office' is tans besig om tegnologie te beproef by poskantore waar oorsese burgers vingerafdrukke en foto's kan indien vir hul identiteitskaarte.

Is dit nou die tyd om te investeer in Britse eiendom? - 23/10/2009 

Dit blyk of die Britse eiendomsmark sy laagtepunte bereik het en dat die vraag na eiendom weer besig is om te styg, weens beter bekostigbaarheid en lae rentekoerse. Huispryse in Engeland en Wallis het vir die vyfde agtereenvolgende maand gestyg in September 2009, wat pryse weer te staan bring op hul vlak van Augustus 2006. Die eiendomswebwerf, Rightmove het 'n rekord styging van 2.8% aangeteken in die vier weke tot 10 Oktober - die skerpste styging wat hul ooit aangeteken het oor 'n maand-periode. Die webwerf, In London, het gesê dat pryse volgens hulle met 6.5% gestyg het oor die vier weke.

Dit blyk dat ontleders nie 'n terugkeer in die bloei-fase van die eiendomsmark verwag soos voor verlede jaar se finansiële krisis nie, maar daar is versigtige optimisme te bespeur. Verbandleners is besig om hul koerse te sny, pryse is besig om in die regte rigting te beweeg en die swak geldeenheid kan oorsese kopers help.

Volgens die Daily Express koerant, is een van die grootste verbandleners, Woolwich (deel van die Barclays-groep) besig om sy koerse te sny met tot 0.6% wat 'n prys-oorlog tot gevolg kan hê. Die Woolwich se stap kom na soortgelyke aankondigings deur Nationwide, Northern Rock HSBC en ander verbandleners.

Britse bevolking kan groei tot 71,6 miljoen - 22/10/2009

Die BBC het berig dat syfers van die Kantoor vir Nasionale Statistiek in Brittanje (ONS) toon dat die Britse bevolking kan styg van 61miljoen tot 71,6miljoen teen 2033.

Die vooruitskattings is gebaseer op tendense van die afgelope paar jaar en twee-derdes van die toename is direk of indirek te wyte aan migrasie na die VK. Indien die projeksie realiseer, sal dit die vinnigste koers van groei in die bevolking wees in 'n eeu.

Die ONS syfers veronderstel dat 180,000 nuwe migrante in die VK sal arriveer elke jaar vir die volgende 25 jaar. Die syfer is 10,000 laer as die projeksie van twee jaar gelede.

Die Minister van Immigrasie, Phil Woolas het in sy reaksie gesê dat die projeksies wys dat die verwagte bevolkingsgroei besig is om te daal, weens die impak van die radikale veranderinge aan die immigrasie-stelsel oor die afgelope twee jaar.

MAC beveel nog poste aan vir die beroepstekortlys  - 21/10/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat die 'Migration Advisory Committee' (MAC) aanbeveel het dat onderwysers in spesiale skole en vaardige vleis-ontbeners bygevoeg moet word by die beroepstekortlys. Ander poste wat die MAC wil insluit by die lys sluit in; gespesialiseerde poste in elektrisiteit en transmissie verspreiding, sekere mediese spesialiteite, en vliegtuig technici.

Die MAC het ook aanbeveel dat seker ingenieurs en konstruksie poste van die lys verwyder moet word, in reaksie op die huidige ekonomiese klimaat. Volgens die MAC is daar tans 500,000 poste op die beroepstekortlys, vergeleke met 700,000 'n jaar gelede.

Die Britse 'Home Office' word adviseer deur die MAC in watter areas van die Britse arbeidsmark daar tekorte beleef word. Die 'Home Office' stel dan 'n lys van beroepe op waar daar 'n tekort beleef word, gebaseer op die aanbevelings van die MAC.

Indien 'n pos nie op die beroepstekortlys is nie, kan 'n vaardige werker steeds uitgereik word met 'n sertifikaat van borgskap vir die pos, maar daar word dan van die werkgewer verwag om die pos te adverteer. Waar die werkgewer dan kan wys, nadat die pos adverteer is, dat daar nie 'n gekwalifiseerde Britse burger of EU-burger is om die pos te vul nie, kan 'n sertifikaat van borgskap uitgereik word aan die nie-EU burger.

Kontak Breytenbachs gerus vir verdere inligting.

Tot 40,000 migrante vermis - 21/10/2009

Die BBC het berig dat tot 40,000 migrante wat die VK meer as ses jaar gelede moes verlaat het, steeds in die VK kan wees.

Die 'Home Office' het aan LP's gesê dat daar geen formele rekord is van die migrante aan wie toestemming geweier is om te bly of wie se visums verval het nie. Die Britse 'Border Agency' het na wat berig word begin ondersoek in stel om te sien of die migrante nog in die VK is en of hulle deporteer kan word. Die leêrs word ook vergelyk met rekords van die polisie, in welke geval die betrokke sake geprioritiseer sal word.

Chris Huhne, die Liberaal Demokrate se woordvoerder op binnelandse sake, het gesê dat sedert die Arbeiders en Tories maatreëls afgeskaf het om te sien wie die VK te verlaat, dit onmoontlik is om te weet of besoekers die land verlaat het wanneer hulle moes.

Veranderinge aan Vlak 4 van die Punte-gebaseerde Immigrasie-stelsel - 02/10/2009 

 Op 1 Oktober 2009, het die 'Home Office' verdere oorgangsmaatreëls aangekondig vir Vlak 4 van die punte-gebaseerde immigrasie-stelsel.

Studente wat van binne die VK wil aansoek doen vir 'n visum hoef net te bewys dat hul die nodige fondse in hul bankrekening het op die dag van die aansoek, solank as wat die aansoek ingedien word voor 1 Februarie 2010. Aansoekers wat aansoek doen van buite die VK moet nou kan bewys dat hul die fondse vir ten minste 28 dae in hul bankrekening gehad het.

Die 'Home Office' het ook begin om die elektroniese 'Confirmation of Acceptance of Studies' (CAS) te gebruik wat uiteindelik die studente visum briewe gaan vervang as deel van die 40 punte wat vereis word om te kwalifiseer vir 'n studente visum. Die CAS sal 'n totaal van 30 punte werd wees, en sal soortgelyke inligting bevat as die studente visum brief. Die grootste verskil tussen die twee is dat die CAS in elektroniese formaat is en elke aansoeker met 'n unieke CAS nommer uitgereik gaan word.

Waar studente die 10 punte moet kan bewys vir fondse en onderhoud, kan die kind en volwasse aansoeker nou oorspronklike bankstate van hul ouers indien om die beskikbaarheid van die fondse te bewys. Die aansoeker sal egter hul oorspronklike geboortesertifikaat moet indien om te kwalifiseer.

Alle aansoeke wat gemaak word op of na 5 Oktober 2009 sal gekoppel wees aan die opvoedkundige instansie waarvoor die studente visum aansoek gedoen word. As 'n gevolg hiervan word 'n ID-kaart uitgereik deur die 'Home Office' wat die unieke borgskap lisensie-nommer sal bevat van die betrokke opvoedkundige instansie. 'n Student mag dan ook slegs van opvoedkundige instansie skuif deur 'n nuwe Vlak 4 studente visum aansoek in te dien.

Vir verdere inligting in die verband, kontak gerus ons kantore by info@breytenbachs.com

Verteenwoordigers van oorsese besighede - 01/10/2009

Die Britse 'Home Office' het veranderinge aangekondig aan die immigrasie reëls van verteenwoordigers van oorsese besighede. Die reël veranderinge het in effek getree op 1 Oktober 2009. Die veranderinge  aan reëls het die kriteria verander vir die toelating van alleen-verteenwoordigers en sal ook die toelating van verteenwoordigers van oorsese media besighede her-instel.

Die vereistes vir die kategorie van werkers gaan steeds buite die punte-gebaseerde immigrasie stelsel val.

Die veranderinge in die geval van alleen-verteenwoordigers is;

  1. Die tak wat die oorsese verteenwoordiger moet stig moet dieselfde tipe besigheidsaktiwiteit bedryf as die oorsese besigheid; en

  2. Die werker moet Engels magtig wees tot 'n basiese standaard.

Diegende wat onder die kategorie toegelaat word kan ook nie meer vergesel word van onafhanklike volwasse familie-lede nie.

Suksesvolle aansoekers sal aanvanklike toegelaat word tot die VK in die kategorie vir drie jaar, waarna hul hul verblyk kan verleng vir 'n verdere twee jaar.

Oorgangsmaatreëls aangekondig vir verdiende burgerskap - 24/09/2009

Die Britse 'Home Office' het oorgangsmaatreëls aangekondig vir migrante wat nog op die pad is om Britse burgerskap te verkry, wanneer die nuwe reëls oor burgerskap ingestel word.

Die nuwe reëls vir verdiende burgerskap gaan in werking tree in Julie 2011, maar die 'Home Office' sal die presiese datum bekend maak nader aan die tyd.

Die oorgangsmaatreëls werk as volg; indien 'n migrant reeds permanente verblyf verkry het wanneer verdiende burgerskap in werking tree, sal hulle outomaties geag word 'n 'permanent resident' te wees. Hulle sal dan kan aansoek doen vir Britse burgerskap onder die 'ou' reëls gedurende die eerste twee jaar waarin verdiende burgerskap in werking gestel is. Indien 'n migrant reeds aansoek gedoen het vir permanente verblyf, alvorens verdiende burgerskap in werking getree het, en dit dan kry, sal hy/sy ook kan aansoek doen vir Britse burgerskap onder die 'ou' reëls gedurende die eerste twee jaar nadat verdiende burgerskap in werking getree het.

Migrante wat na die VK gekom het met die HSMP-permit sal toegelaat word om aansoek te doen en sal permanente verblyf verkry, ingevolge die immigrasie reëls wat gegeld het toe hulle HSMP-permit toegeken is.

Kontak gerus die Breytenbachs kantore indien jy verdere  navrae het.

Migrante keer huistoe weens VK ekonomie - 08/09/2009

Die BBC het berig dat baie ekonomiese migrante van oos Europese lande huistoe gaan weens die resessie in die VK.

'n Studie wat afgevaardig is deur die BBC, die 'global Migration Policy Institute study', het bevind dat die uitbreiding van die EU gelei het daartoe dat sowat 1,3 miljoen oos-Europese burgers na die VK gemigreer het tot 2008. Die resessie in die VK, en die Poolse ekonomie wat 'n effense oplewing toon, het egter hierdie patroon omgeswaai.

Volgens die studie het die helfte van die migrante reeds na hul lande van herkoms teruggekeer. Daar word egter verwag dat die vloei van migrante na die VK weer kan optel soos wat die Britse ekonomie weer optel.

Die studie het verder bevind dat daar wêreldwyd ondervind word dat minder mense oorsee gaan werk, sedert die begin van die globale ekonomiese afswaai.

Tekort aan dokters in Wallis geblameer op nuwe punte-stelsel - 01/09/2009

Die BBC het berig dat daar beweer word dat ongeveer 200 doktersposte by vier NHS trusts vakant is weens die nuwe punte-gebaseerde immigrasie-stelsel. Skynbaar word Wallis erger geaffekteer as die res van die VK.

'n Walliese regeringswoordvoerder het gesê dat veranderinge aan die immigrasie reëls regoor die VK probleme gegee het met die werwing van dokters en dat hulle saamwerk met ander regerings en trusts om die probleme aan te spreek.

VK huispryse styg - 28/08/2009

Die BBC het berig dat Britse huispryse vir die vierde maand in 'n ry gestyg het in Augustus 2009. 

Volgens syfers van Nationwide het huispryse met 1.6% gestyg in Augustus, wat die gemiddelde huisprys te staan bring op £160,224 op van £158,871 in Julie 2009. Hoewel huispryse steeds laer is as in 2008, het die jaarlikse koers van verlaging in die waardes van eiendom sterk verlangsaam tot 2.7%.

Volgens Nationwide is een van die sleutelfaktore wat die pryse ondersteun die baie lae rentekoers vlakke, wat konstant gehou is op 0.5% deur die Bank van Engeland sedert Maart 2009.

Immigrasie syfers daal - 27/08/2009

Die Britse 'Home Office' het syfers bekend gemaak wat daarop dui dat werksaansoeke van burgers van die A8 EU-lidlande verder gedaal het in 2009. In die tweede kwartaal van 2009 was daar net meer as 26,000 aansoeke van die werkers van die A8 lande, af van sowat 46,000 in dieselfde periode in 2008. Die A8 lidlande is; Poland, Lithuania, Latvia, Hongarye, Slovakië, Slovenië, Estonia en die Tsjeggiese Republiek.

Die Kantoor van Nasionale Statistiek in die VK het ook syfers gepubliseer wat daarop dui dat netto-migrasie gedaal het tot 118,000 in 2008, af van sowat 209,000 in 2007. Dit is die laagste syfer sedert die A8 lande by die EU aangesluit het in 2004.

Die Britse minister van Immigrasie, Phil Woolas het in sy reaksie gesê dat Britse burgers tevrede kan wees dat immigrasie onder beheer is.

Intra-maatskappy oordrag roete baie gewild onder IT-maatskappye - 24/08/2009

Die Financial Times (FT)  het berig dat tegnologie maatskappye oorsese personeel na die VK bring teen dubbel die koers van alle professionele dienste gekombineer. Dit het hernieude bewerings ontlok dat besighede besig is om die roete te gebruik om immigrasie wetgewing te omseil.

Meer as 60 persent van nie-EU werkers wat verlede jaar in die VK gearriveer het was via die intra-maatskappy oordrag roete.

IT maatskappye het gereageer deur te sê dat oorsese werkers nodig is om die kort-termyn gapings in plaaslike vaardighede te vul en dat dit op sy beurt weer inwaartse investering aanmoedig. 'n Woordvoerder vir die industrie se handelsliggaam het aan die FT gesê dat indien die immigrasie-roete gesluit word dit sal lei tot die verlies van werksgeleenthede in die VK, aangesien mense bloot hul besigheid na Europa of elders sal skuif.

Die 'Migration Advisory Committee' het vroeër die maand aanbeveel dat mense wat na die VK kom via die intra-maatskappy roete nie toegelaat mag word om hulself te vestig in die VK nie. Die kwalifiseringstydperk vir 'n persoon by die maatskappy voor hy oorgeplaas mag word na die VK moet ook verleng word van 6 na 12 maande. In reaksie op die kritiek dat die punte-stelsel verhoed dat die belowendste internasionale gegradueerdes na die VK gelok word, is 'n nuwe skema bekendgestel wat gegradueerdes sal toelaat om na die VK te kom met die roete, na 3 maande se ervaring by die maatskappy, met 'n maksimum verblyf van 12 maande.

'n Woordvoerder van die 'Association of Professional Staffing Companies' (Apsco) het gesê dat die voorstelle skade kan berokken aan die bedryf in 'n tyd waar baie nuut gekwalifiseerde IT-gegradueerdes sonder werk is. 

Die voorstelle deur die 'Migration Advisory Commitee' is op 7 September aanvaar.

Punte-stelsel te vinnig in werking gestel - 19/08/2009

Die Financial Times (FT) het berig dat Britse maatskappye skade gely het in die Britse regering se haastigheid om te bewys dat hulle sterk beleid in plek het rakende immigrasie.

Bekende immigrasie spesialiste het aan die FT gesê dat die nuwe punte-gebaseerde immigrasie-stelsel te vinnig in werking gestel is in 2008, en grootlikse weens politieke redes, wat die tydperke vir implementasie baie kort gemaak het. Die Britse 'Border Agency' is egter geloof vir die feit dat hy reageer op probleme met die stelsel, maar is in dieselfde asem gekritiseer dat hy nie eerder na waarskuwings oor tekortkominge geluister het nie.

Die FT het verder berig daar klagtes is oor hoekom die regering sulke sterk maatreëls in plek het vir groot besighede, terwyl dit maar eintlik daaroor gaan om die Britse kiesers se vrese te besweer dat hul werksgeleenthede opgeneem gaan word deur laag geskoolde oorsese werkers. Een immigrasie-prokureur het gesê dat die beleid 'n baie negatiewe boodskap uitstuur aan die res van die wêreld in 'n tyd wat die VK sy ekonomiese aantreklikheid moet behou om hoogs geskoolde migrante te lok.

Hoeveelheid verbandlenings wat toegeken word styg - 12/08/2009

Die BBC het berig dat die hoeveelheid verbandlenings wat toegeken is in Junie 2009 met 23% toegeneem het vergeleke met Mei 2009.

Volgens syfers van die 'Council of Mortgage Lenders' (CML) is sowat 45,000 huislenings goedgekeur, 6% laer as in Junie 2008. Die groep sê die verbandleningsmark het gestabiliseer, maar dat dit nog nie weer 'n oplewingsfase bereik het nie.

Volgens 'n CML ekonoom help die lae rentekoerse en realistiese verkoopspryse om aktiwiteit in huistransaksies aan te wakker, maar dat daar nog heelwat aktiwiteit sal moet wees voor die normale vlakke van aktiwiteit weer bereik word. 

VK kan super mobiele migrante verloor aan kompeterende lande - 06/08/2009

'n Verslag deur die 'Institute for Public Policy Research' (IPPR) het gewaarsku dat die VK sy super mobiele migrante kan verloor aan kompeterende lande.

Die IPPR het gesê dat migrasie vir kort tydperke 'n groeiende verskynsel is en dat die hoeveelheid migrante wat minder as vier jaar in die VK bly verdubbel het tussen 1996 en 2007. 'n Aanlyn-opname het ook getoon dat 85% van migrante wat tans in die VK is beplan om slegs vir 'n kort tydperk te bly. Ingevolge die verslag is die migrante wat mees waarskynlikste is om die land te verlaat hoogs geskoold, het 'n goeie opvoeding met min redes wat hul verhoed om weer te migreer.

Die IPPR het voorgestel dat daar meer aktiewe stappe geneem moet word om hierdie migrante aan te moedig om te bly , deur die punte-stelsel, maklike verlenging van visums, belasting voordele ens.

Die Instituut her verder gesê dat soos wat globale kompetisie verhoog vir hoogs geskoolde migrante, die maatreëls wat ingestel word om migrante aan te moedig om aan te bly, net so belangrik gaan word soos die wat hulle hierheen moet lok in die eerste plek. 

Planne vir nuwe punte-stelsel vir Britse burgerskap onthul - 04/08/2009

Die Britse 'Home Office' het planne bekend gemaak ingevolge waarvan immigrante genoeg punte sal moet verdien om permanent in Brittanje te bly as Britse burgers.

Huidiglik, moet migrante vir vyf jaar in die VK werk in 'n permanente kategorie om dan 'n outomatiese reg te kry om aansoek te doen vir Britse burgerskap, wat normaalweg toegeken word. In die toekoms, ingevolge nuwe voorgestelde maatreëls, sal migrante vyf jaar moet werk as tydelike burgers, voor hulle dan voorwaardelike burgerskap toegeken word. Hulle kan dan volle Britse burgerskap verkry deur punte te verdien, wat 'n verdere jaar tot vyf jaar kan duur.

Onder die voorstelle sal 'n migrant punte kan verdien vir verskillende eienskappe en vaardighede. Punte kan ook verdien word vir ekonomiese bydraes, vaardighede en Engelse taalvaardigheid bokant die vlak wat normaalweg vereis word. Die pad na burgerskap kan ook bespoedig word deur vrywillige- en gemeenskapswerk.

Punte kan verwyder word en burgerskap geweier word aan diegene wat die wet verbreek of anti-sosiale gedrag openbaar.

Die Britse regering het ook bekend gemaak dat daar planne is om meer punte toe te ken aan diegene wat gaan bly in plekke waar immigrasie benodig word, soos Skotland.

In sy reaksie op die voorstelle het Hannes Breytenbach gesê dat daar in gedagte gehou moet word dat die voorstelle nou eers deur 'n konsultasie-proses gaan en dat daar waarskynlik veranderinge aangebring gaan word, alvorens dit as wet geïmplementeer word, wat waarskynlik nie voor 2011 sal gebeur nie. Op die stadium is dit nie duidelik hoe dit migrante wat reeds in die VK is gaan beïnvloed nie. Ons eerste reaksie is dat migrante reeds in die VK sal vasbyt en aanbly in die VK, aangesien die nuwe reëls hoogstens die proses na burgerskap sal verleng vir diegene in indiensname, en wat geïntegreer is in die gemeenskap met goeie Engelse taalvaardigheid.

Breytenbachs sal kliënte op hoogte hou rakende verwikkelinge in die verband. 

LP's ondersteun nuwe punte-gebaseerde immigrasie-stelsel - 02/08/2009

Die BBC het berig dat lede van die Britse Parlement die nuwe punte-gebaseerde immigrasie-stelsel 'n versigtige verwelkoming gegee het, maar ook 'n paar probleme uitgewys het.

Die Komitee vir Binnelandse Sake het gesê dat groter gewig gegee moet word aan vaardighede en werkservaring, eerder as verdienste in die toelatingsvereistes, ten einde perverse uitkomstes te verhoed. Die voorsitter van die komitee het gesê dat dit onvanpas is dat iemand met 'n vars meestersgraad in hul eerste werk kan kwalifiseer as 'n hoogs geskoolde migrant, terwyl 'n besigheidspersoon met 25 jaar se globale ervaring, sonder 'n meestersgraad, wat honderde duisende ponde verdien, nie kwalifiseer as 'n hoogs geskoolde migrant nie.

Ander punte van bekommernis wat uitgelig is, is die tyd wat dit neem om 'n biometriese visum te prosesseer, die spoed waarmee die 'Border Agency' reageer op individuele sake en die gebrek aan 'n onafhanklike appél proses.

Visum aansoeke in SA moet nou aanlyn gedoen word - 31/07/2009

Vanaf 1 Julie 2009, moet alle visum aansoeke wat vanaf SA gedoen word, aanlyn gedoen word.

Breytenbachs sal soos altyd jou van hulp kan wees met jou aansoek en sal vir jou 'n datum en tyd reël wat jou pas, om die aansoek in te dien. Persone wat aansoeke op hul eie wil indien moet nou gebruik maak van die VFS Global se aanlyn fasiliteit by www.visa4uk.fco.gov.uk. Jy kan ook op die webblad die aansoekfooi betaal en 'n afspraak maak by jou naaste VFS tak.

Die Britse Hoë Kommissaris het gesê dat 'n 'pragmatiese' benadering gevolg sal word in die oorgangstyd en dat mense wat nie van die reëling bewus is nie, tegemoet gekom sal word. In die nabye toekoms sal daar egter nie uitsonderings gemaak word nie, en alle aansoeke sal aanlyn gedoen moet word.

Kontak Breytenbachs gerus vir meer inligting by info@breytenbachs.com

Veranderinge aan die wet op burgerskap  - 15/07/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat veranderinge aan die 'Borders, Citizenship and Immigration' wetsontwerp oorweeg word in die Parlement ten einde veranderinge te maak an die Britse Burgerskap Wet. 

Die Britse Burgerskap Wet gaan so aangepas word dat 'n persoon wat in die VK gebore word van 'n ouer in die weermag, outomaties 'n Britse burger is. Dit gebeur reeds in praktyk, maar veranderinge in die wet sal dit nou bekragtig.

Vir kinders wat gebore word van ouers in die Britse gewapende magte, sal 'n nuwe afdeling ingevoeg word, wat 'n persoon wat buite die VK gebore word geregtig sal maak om vir Britse burgerskap te registreer indien;

  • hy of sy gebore is van 'n Oorsese of Statebonds lid van die Britse gewapende magte; en

  • die ouer ten tyde van die geboorte buite die VK diens gedoen het; en

  • beide ouers toestem tot die registrasie.

Vir meer inligting in die verband of enige ander kwessie, kontak gerus ons kantore by info@breytenbachs.com

Britse regsfirma's ongelukkig oor veranderinge in immigrasie wetgewing - 01/07/2009

Die Times het berig dat van Londen se grootste regsfirma's ongelukkig is oor die veranderinge wat aangebring is aan immigrasie-wetgewing, wat hul verhoed om talent van buite die Europese Unie in diens te neem.

In terme van die regulasies wat in Maart 2009 in werking getree het, moet oorsese werkers oor 'n Meestersgraad beskik om te kwalifiseer vir die Vlak 1 visum vir hoogs geskoolde migrante. Aangesien dit ongewoon is vir mense in die regsberoep om oor 'n Meestersgraad te beskik ('n regsgraad en professionele diploma is die norm om as prokureur te werk), kwalifiseer baie min kandidate vir die tipe visum.

Londen se top firma's het na wat berig word hul standpunte uiteengesit in 'n brief aan die Britse Regsorde, wat ook voorgelê gaan word aan die 'Migration Advisory Commitee' as deel van hul aaneenlopende konsultasie-proses. Die regsfirma's het ook gewaarsku dat die nuwe immigrasie-wetgewing hul verhoed om top talent na die VK te lok en dat dit uiteindelik die stad se kompeterendheid in die regsberoep gaan laat afneem.

Immigrasie amnestie kan Britse ekonomie 'n hupstoot van £3biljoen gee - 17/06/2009

Die BBC het berig dat 'n studie wat onderneem is deur die burgermeester van Londen, Boris Johnson, gevind het dat amnestie aan lang-termyn onwettige immigrante in Brittanje die land se ekonomie sowat £3biljoen in die sak kan bring.

Die verslag wat gedoen is deur die 'London School of Economics' het bevind dat 'n amnestie nie sal lei tot 'n toename in immigrasie nie, maar besteding op welsyn en behuising sal verhoog. Volgens die studie is daar sowat 618,000 onwettige immigrante in die VK, waarvan sowat 422,000 in Londen is. Die studie het verder gevind dat indien 'n vyf-jaar verplyfplan ingestel word, sowat 67% van onwettige immigrante sal kwalifiseer om in die VK te bly.

Die Britse regering het gereageer op die verslag deur te sê dat daar geen so amnestie gegee sal word nie en dat onwettige immigrante moet terugkeer na hul land van herkoms.

Toegewing aan studente  - 16/06/2009

Die Britse 'Border Agency' het aangekondig dat 'n toegewing gemaak sal word aan studente wat hul A-Levels in die VK wil doen en nog wag op hul GCSE-resultate.  Studente wat wag op hul GCSE-resultate mag intussen 'n visum-aansoek doen op grond van 'n voorwaardelike toelating van hul opvoedkundige instansie.

Die stap is geneem in die lig van die feit dat GCSE-resultate eers bekend gemaak gaan word aan die einde van Augustus, en sommige kursusse reeds in September gaan begin, wat dit moeilik sal maak om in so 'n kort tydjie aansoek te doen vir 'n studente visum.

Die 'Border Agency' het verder toegestem dat die toegewing nie net beperk gaan word tot diegene wat hul A-Levels wil doen nie, maar dat die toegewing gemaak sal word aan alle studente wat wag op hul GCSE-resultate en wil inskryf vir verdere kursusse, soos Hoër Diplomas.

Kontak Breytenbachs gerus vir meer inligting in die verband.

Britse ekonomie groei weer - 11/06/2009

Die Independent koerant het berig dat een van die VK se mees gerespekteerde organisasies, die 'National Institute of Economics and Social Research (NIESR), van mening is dat die resessie in die VK iets van die verlede is.

Volgens die NIESR het die Britse ekonomie sy laagste punt bereik in Maart 2009, en weer geringe groei getoon in April en Mei 2009. Die groeisyfer vir April was 0.2% en 0.1% vir Mei 2009. Hoewel die groeisyfers baie klein is, is dit wel die einde van 'n jaar se stagnasie en resessie.

Die NIESR het die Bank van Engeland se kwantitatiewe beleid en die sny van rentekoerse genoem as die vernaamste redes vir die ommeswaai.

Daar is verder berig dat dit wil voorkom of besigheidsvertroue ook besig is om op te tel.

Stygende belangstelling onder potensiële huiskopers - 09/06/2009

Die BBC het berig dat die 'Royal Institution of Chartered Surveyors' (RICS), gesê het dat stygende belangstelling in eiendom onder potensiële huiskopers en die dalende hoeveelheid verkopers besig is om Britse huispryse te stabiliseer. Dit kom nadat syfers van RICS getoon het dat belangstelling onder voornemende kopers vir die sewende maand in 'n ry in Mei gestyg het.

'n Woordvoerder van RICS het gesê dit dui daarop dat die huismark besig is om op te tel en dat pryse aan die stabiliseer is. Hy het egter gesê dat daar in gedagte gehou moet word dat die tekort in die aanbod van huise net so 'n groot faktor in huispryse is, as die groei in vraag.

Britse eiendompryse styg in Mei - 04/06/2009

Volgens syfers van Halifax, het huispryse met 2.6% gestyg in Mei 2009 vergeleke met April 2009. Aktiwiteit op die huismark bly egter laag. Die Nationwide bougenootskap het gesê dat pryse met 1.2% gestyg het in Mei vergeleke met April 2009. Dit is die tweede styging in drie maande.

Die BBC het berig dat beide Halifax en Nationwide van mening is dat die relatiewe lae aanbod van huise in die mark waarskynlik 'n invloed het op die gemiddelde pryse. 'n Woordvoerder van Halifax het gesê dat hulle verwag dat hulle lae aktiwiteit in die huismark verwag oor die komende maande.

Verbandlenings styg vir 'n derde maand in 'n ry - 02/06/2009

Die BBC het berig dat syfers van die Bank van Engeland wys dat die hoeveelheid verbandlenings wat toegeken is aan huiskopers in die VK, vir die derde maand in 'n ry gestyg het in April 2009. 43,201 nuwe huislenings is goedgekeur in April 2009.

Goedgekeurde huislenings is 'n goeie aanduiding van kort-termyn tendense in die mark en mag beteken dat verkope besig is om stadig te styg. 'n Woordvoerder van Investec het gesê dat hoewel dit nie 'n groot sprong is nie, dui dit tog op 'n opwaartse kurwe, wat daarop kan dui dat die huismark stadig maar seker besig is om te herstel.

Academici wil nuwe visum reëls boikot - 29/05/2009

Die BBC het berig dat afgevaardiges van die Universiteite en Kolleges se vakbonde op hul jaarlikse konferensie gesê het dat hul nie 'n tak van die Britse 'Border Agency' wil wees nie. Hulle het verder gesê dat hul beoog om die nuwe visum reëls wat geld vir oorsese studente te boikot, aangesien daar van hul verwag gaan word om op die studente te 'spioeneer'.

Ingevolge die nuwe studente visum reëls word daar van opvoedkundige instansies verwag om te monitor of oorsese studente hul kursusse bywoon. Afgevaardiges op die kongres het gesê dat die reëls die verhouding tussen personeel en studente van buite die EU kan versuur.

Die Britse 'Home Office' het in reaksie hierop gesê dat dit deel van die plig is van opvoedkundige instansies om seker te maak dat studente kursusse bywoon en vordering maak. 

Hoeveelheid Oos-Europese immigrante wat VK verlaat verdubbel - 21/05/2009

Volgens syfers van die Kantoor van Nasionale Statistiek in die VK, het die hoeveelheid immigrante van Oos- en Sentraal Europa wat die VK verlaat het, verdubbel in die jaar tot September 2008.

Voorlopige syfers toon dat 56,000 mense van agt lande in Oos- en Sentraal Europa die VK verland het in die jaar tot September 2008. Dit is meer as dubbel die 26,000 wat die VK verlaat het in die vorige twaalf maand. Nietemin het 44,000 meer immigrante van die lande in die VK aangekom, as wat die land verlaat het.

Die Britse bevolking groei steeds weens immigrasie, maar teen 'n laer koers, weens die groter hoeveelhede mense wat die land verlaat.

Goeie nuus vir migrante wat hul HSMP-permitte ontvang het voor 3 April 2006 - 20/05/2009

Die HSMP Forum het 'n regsaansoek gewen teen die Britse regering wat daarop berus dat iemand wat die VK binnegekom het met 'n HSMP-permit voor die kwalifiseringstydperk vir Permanente Verblyf verleng is van vier jaar na vyf jaar (voor 3 April 2006), geregtig moet wees op Permanente Verblyf na vier jaar op die tipe permit.

Die Britse regering het nou aangekondig dat migrante wat gedek is deur die regsaansoek, met ander woorde diegene wat hul HSMP-permit ontvang het voor 3 April 2006, en wat al ten minste vier jaar se aaneenlopende verblyf het in die VK in 'n kwalifiserende kategorie, nou kan aansoek doen vir permanente verblyf in die VK. Migrante wat gedek is deur die regsaansoek hoef ook nie die 'knowledge of language and life in the UK' toets af te lê nie, aangesien dit nie oorspronklik deel was van die vereistes vir permanente verblyf nie.

Indien die aansoek vir permanente verblyf suksesvol is, sal die migrant ook 'n eenmalige betaling ontvang van die Britse regering om die koste van die tweede HSMP-verlengingsaansoek te dek. Verder, indien die aansoek vir permanente verblyf suksesvol is en die applikant doen later aansoek vir burgerskap, dan sal die applikant geag word om permanente verblyf te verkry het vanaf die datum wat die vier jaar kwalifiseringstydperk bereik is. 

Verslag toon momentum in die Britse eiendomsmark - 15/04/2009

'n Peiling deur die 'Royal Institution of Chartered Surveyors' (Rics) het bevind dat belangstelling in die huismark toegeneem het vir die vyfde agtereenvolgende maand. Volgens Rics is belangstelling van voornemende huiskopers besig om momentum op te bou, hoewel verkope steeds laag is.

Die BBC het berig dat 'n woordvoerder van Rics gesê het dat hoewel dit lyk of die mark besig is om momentum te kry, daar steeds die frustrasie bestaan van die nie-beskikbaarheid van finansiering vir verbandlenings. Die woordvoerder het verder gesê dat die mark steeds kwesbaar is, maar dat daar moontlik meer stabiliteit kan wees in die komende maande.

Veranderinge in immigrasie reëls kan die NHS skade berokken - 14/05/2009

Die BBC het berig dat die 'British Medical Association' (BMA) gesê het dat veranderinge aan Vlak 1 vir hoogs geskoolde migrante onregverdig is teenoor buitelandse medici. Die organisasie het gesê dat die nuwe reëls beteken dat buitelandse dokters in die eerste twee jaar van hul opleiding nie kan aangaan tot die volgende fase nie. Volgens die BMA kan dit uiteindelik lei tot 'n tekort aan dokters.

Die veranderinge in die immigrasie reëls wat in werking getree het in Maart 2009, beteken dat diegene wat aansoek doen vir 'n Vlak 1 permit 'n meestersgraad moet hê. Aangesien 'n mediese graad slegs 'n baccaleurus graad is, beteken dit dat junior dokters van buite die EU nie vir die permit kwalifiseer nie.

Die Britse 'Home Office' en die Departement van Gesondheid in die VK het reageer deur te sê dat die veranderinge nie mediese dienste in die land sal benadeel nie en dat die nuwe punte-gebaseerde immigrasie stelsel beteken dat slegs diegene na die VK kom wat benodig word.

Uitspraak in die HSMP Forum aansoek  - 14/04/2009

Die Britse regering het aangekondig dat die HSMP Forum 'n regsaansoek gebring het teen die Britse Regering wat daarop berus dat iemand wat die VK binnegekom het met 'n HSMP-permit voor die kwalifiseringstydperk vir Permanente Verblyf verleng is van vier jaar na vyf jaar, geregtig moet wees op Permanente Verblyf na vier jaar op die tipe permit. Die regter het beslis in die guns van die HSMP Forum.

Die Britse regering is nou besig om te kyk hoe hulle die regsuitspraak gaan implementeer en het gesê dat hulle besonderhede in die verband sal publiseer. Breytenbachs sal kliënte op hoogte hou van die verloop van sake.

Verbandlenings in die VK neem toe  - 14/04/2009

Die 'Council of Mortgage Lenders' (CML) het aangekondig dat die hoeveelheid verbandlenings wat toegeken is deur verbandleners toegeneem het in Februarie 2009.

Lenings vir die koop van huise in die VK het toegeneem tot 23,400 in Februarie 2009, wat 4% hoër is as in Januarie 2009. Die CML het egter gesê dat aktiwiteite in die mark steeds baie laag is. 'n Woordvoerder van die CML het gesê dat hoewel die onderliggende tendense nog nie tot so 'n mate verander het dat voorspellings vir 2009 aangepas moet word nie, is daar tog positiewe tekens vir later in die jaar 2009.

Bank van England hou rentekoerse op 0,5%  - 09/04/2009

Die BBC het berig dat die Bank van Engeland rentekoerse gehou het op 0.5%.

Die rentekoers is op sy laagste vlak ooit, nadat die koers ses keer verlaag is sedert Oktober 2008. Die Britse regering gaan ook voort met sy kwantitatiewe ekonomiese beleid, die skep van geld, in 'n poging om lenings beskikbaar te maak en om die Britse ekonomie uit die resessie te stimuleer.

Britse regering hou werksbeperkings vir Oos-Europese migrante - 09/04/2009

Die Britse regering het aangekondig dat streng werksbeperkings, in die vorm van die Werker Registrasie Skema, vir Oos-Europese migrante nie geskrap gaan word nie. Die besluit volg na aanleiding van advies wat deur die 'Migration Advisory Committee' gegee is oor die voordele van die skema vir die Britse arbeidsmark.

Die skema sal behou word vir 'n verdere twee jaar, waarna dit outomaties tot 'n einde sal kom ingevolge 'n Europese Unie ooreenkoms in die verband.

Volgens die Britse regering stel die Werker Registrasie Skema hulle in staat om te monitor watse werk die Oos-Europese migrante doen en waar hulle dit doen. Die inligting stel hulle dan in staat om beter te plan vir plaaslike dienste en om te verseker dat migrasie werk vir die Britse arbeidsmark en die land in sy geheel.

Nationwide sê huispryse is besig om te styg - 02/04/2009

Die BBC het berig dat die Nationwide bougenootskap berig het dat huispryse in Maart 2009 gestyg het. Dit is die eerste styging sedert Oktober 2007. Eiendomspryse het gestyg met 0.9%, vergeleke met die vorige maand. Volgens Nationwide is die styging 'n verrassing.

Nationwide se hoof-ekonoom het gesê dat die styging baie welkom is, maar dat dit nog nie bewys is dat die mark besig is om opwaarts te swaai nie.

Vlak 4 vir Studente loods aan die einde van Maart  - 11/03/2009

Die Britse regering het aangekondig dat Vlak 4 van die nuwe punte-gebaseerde in die VK geloods sal word op 31 Maart 2009.

Vanaf hierdie datum sal studente wat in die VK wil studeer vir hul visum moet aansoek doen via die nuwe punte-gbaseerde immigrasie stelsel.

Borgskap is die onderliggende beginsel van die nuwe Vlak 4. Dit beteken dat elke student 'n opvoedkundige instansie moet hê wat bereid is om hom/haar te borg. Vir die opvoedkundige instansie om as borg te kan optree, sal hulle 'n lisensie moet hê van die 'n 'UK Border Agency'. Die opvoedkundige instansie moet dan voldoen aan baie streng reëls en regulasies en moet enige student wat nie voldoen aan sy/haar visum reëls nie - soos die nie-bywoning van klasse, laat inskrywing ens. rapporteer.

Vir 'n student om te kan aansoek doen vir die Algemene Studente Visum, moet aansoekers 40 punte verdien in twee kategorieë objektiewe kriteria;

  1. Bevestiging dat hul aanvaar is vir studies by 'n opvoedkundige instansie - 30 punte.

  2. Bewys dat hul genoegsame fondse het - 10 punte.

Studente wat 'n visum toegeken word ingevolge Vlak 4 mag steeds deeltyds werk gedurende die termyn en voltyds gedurende vakansietye. Hulle afhanklikes mag hulle ook vergesel na die VK, mits hulle aan die reëls in die verband voldoen.

Studente wat vir minder as ses maande in die VK wil studeer, nie wil werk gedurende die tyd nie, en ook nie hul verblyf wil verleng terwyl hulle in die VK is nie, kan die VK binnekom op 'n studente besoekers-visum.

Kontak gerus ons kantore vir meer inligting of as jy wil aansoek doen vir jou studente visum.

Brittanje kan die 'grootste' wees in die EU teen 2050  - 10/03/2009

Die BBC het berig dat Brittanje die grootste bevolking in Europa kan hê, en die derde grootste ontvanger van migrante in die wêreld, teen 2050.

Volgens die VN se vooruitskattings in die verband sal netto migrasie na die VK 'n gemiddeld van 174,000 beloop tot die jaar 2050, wat die bevolking sal laat groei tot 72 miljoen mense. Die VSA sal die grootste ontvanger wees van migrante met 1,1 miljoen per jaar tussen die jare 2010 en 2050. Kanada sal ongeveer 214,000 netto migrante ontvang per jaar.

Volgens navorsers sal die huidige globale ekonomiese krisis slegs migrasie verlangsaam op 'n tydelike grondslag.

Bank van Engeland verlaag rentekoers na nuwe rekord laagtepunt  - 06/03/2009

Die Bank van Engeland het rentekoers verlaag na 'n nuwe rekord laagtepunt van 0.5% in 'n poging om die Britse ekonomie te stimuleer. Rentekoerse is nou reeds ses keer verlaag sedert Oktober 2008.

Die BBC het ook berig dat die Bank van Engeland van plan is om die geldvoorraad te verhoog in 'n poging om die Britse ekonomie te stimuleer. Die hoof van die Bank, Mervyn King, het gesê dat die kwantitatiewe ekonomiese beleid met die tyd sal werk.

Migrasie van nuwe EU-lidlande op laagste vlak  - 25/02/2009

Statistieke wat vrygestel is deur die Britse regering dui daarop dat werksaansoeke van burgers die agt nuwe EU-lidlande gedaal het tot die laagste vlak sedert die lande by die EU aangesluit het in 2004.

In die laaste kwartaal van 2008, was daar 29,000 werksaansoeke van werkers van hierdie lande (Poland, Lithuanië, Latvia, Hongarye, Slovakië, Estonia en die Tsjeggiese Republiek), in vergelyking met 53,000 vir dieselfde periode in 2007. Die daling word toegeskryf aan die daling van aansoeke van Poolse werkers.

Die Britse Minister van Grense en Immigrasie, Phil Woolas, het in reaksie op die syfers gesê dat die hoeveelheid Oos-Europese migrante besig is om dramaties te daal en dat navorsing daarop dui dat vele van die wat na die VK gekom het reeds teruggekeer het na hul tuislande.

Doelwitte vir 2009  - 25/02/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat hy 10 doelwitte het vir 2009, waardeur hulle wil verseker dat hulle verder die VK se grensbeheer versterk: 

  • Maart - die opening van 'n nuwe immigrasie beheersentrum naby Gatwick.

  • April - gebruik die nuwe punte-gebaseerde stelsel om te verseker dat migrante wat na die VK kom, voldoen aan die Britse arbeismark se behoeftes.

  • April - begin om migrante addissionele gelde te vra om sodoende 'n fonds te stig wat die impak van migrasie op plaaslike dienste sal verlig.

  • April - stel nuwe tegnologie bekend om dwelms en ander onwettige goedere op te spoor. 

  • Mei - strenger maatreëls teen Europese kriminele.

  • Julie - nuwe visum maatreëls vir burgers van Bolivië, Suid-Afrika, Lesotho, Swaziland en Venezuela.

  • Augustus - finale installering van tegnologie om gesigte te herken by 10 lughawe terminale.

  • November - die uitreiking van 75,000 ID-kaarte aan oorsese burgers. 

  • Desember - deporteer 'n rekord getal oorsese kriminele in Britse tronke.

  • Desember - bereik die doelwit om 120 miljoen passassiers wat die VK verlaat en binnekom te monitor teen sekuriteitslyste. 

Boodskap van Breytenbachs se Vlak 1 departement  - 24/02/2009

Die Britse regering het aangekondig dat vanaf 31 Maart 2009, die kriteria vir hoogs geskoolde migrante wat na die VK wil kom ingevolge Vlak 1, verhoog gaan word na 'n Meestersgraad en 'n minimum salaris van £20,000.

Daar is telefonies aan Breytenbachs bevestig dat bogenoemde kriteria nie huidige HSMP-permithouers of persone wat hul Vlak 1 (Algemeen) permitte wil verleng sal beïnvloed nie. Ons wag egter vir finale uitklaring en riglyne van die Britse 'Home Office' in die verband.

Nuwe aansoekers wat wil aansoek doen, wie se professionele kwalifikasie ekwivalent is aan 'n Britse meestersgraad behoort te voldoen aan die nuwe kriteria, maar weereens wag ons vir finale uitklaring in die verband.

Indien jy nog moet aansoek doen vir die Vlak 1(Algemeen) permit van buite die VK, of indien jy 'n aansoek wil doen om jou immigrasie status van binne die VK te verander na die Vlak 1-skema, moet jy sorg dat jou aansoek ingedien word voor die einde van Maart 2009, indien jy nie aan die nuwe kriteria van 'n Meestersgraad en 'n minimum salaris van £20,000 per jaar voldoen nie.

Ons vra alle voornemende aansoekers om te sorg dat hul stawende dokumente en aansoeke ons moet bereik teen die middel van Maart 2009, om ons die kans te gee om jou aansoek deur te gaan en die nodige veranderinge en aanpassings te maak, indien nodig. Indien ons nie die dokumente voor hierdie datum bereik nie, sal ons jou nie kan waarborg dat die aansoek betyds afgehandel kan wees vir die 31 Maart 2009 afsny-datum nie.

Kontak Anine van der Westhuizen by anine@breytenbachs.com vir meer inligting.

Nuwe Punte-gebaseerde Immigrasie reëls - 23/02/2009

Die Britse regering het aangekondig dat nuwe maatreëls ingestel gaan word wat dit moeiliker gaan maak vir oorsese werkers om na die VK te kom. Dit sal 'n beter kans gee vir Britse werkers om aansoek te doen vir plaaslike werksgeleenthede. Jacqui Smith, die 'Home Secretary' het gesê dat hul die buigsaamheid van die punte-gebaseerde stelsel gebruik om aan te pas by die veranderende ekonomiese omstandighede van Brittanje, en daardeur help hulle Britse werkers deur die moeilike ekonomiese klimaat.

Die drie veranderinge wat aangebring gaan word en in werking tree aan die einde van Maart 2009 is:

  • Die plaaslike arbeidstoets vir Vlak 2 geskoolde werkers gaan strenger gemaak word. Vanaf die einde van Maart 2009 moet werkgewers die poste adverteer deur die JobCentre Plus, alvorens hulle 'n werker van buite die EU mag aanstel;

  • Die arbeidstekortlys sal gebruik word om te bepaal watter vaardighede nodig is in Brittanje en plaaslike werkers sal opgelei word om te verseker dat Brittanje al hoe minder afhanklik is van migrasie in die toekoms;

  • Die kriteria vir werkers wat na die VK wil kom met Vlak 1 vir hoogs geskoolde werkers word strenger gemaak. Die minimum kwalifikasie vereiste word nou 'n Meestersgraad en die minimum salaris £20,000.

Daar is ook aan die 'Migration Advisory Committee' gevra om verslag te doen oor die volgende;

  • of dit ekonomies regverdigbaar is om Vlak 2 (geskoolde werkers) te beperk tot poste wat op die arbeidstekortlys is;

  • hulle bepaling van die ekonomiese bydrae wat afhanklikes van migrante maak tot die arbeidsmark; en

  • watter verdere veranderinge aan die kriteria van Vlak 1 in 2010 en 2011 aangebring moet word in die lig van die veranderende ekonomiese klimaat.

Verteenwoordigers van oorsese koerante, nuus agentskappe en uitsaai-organisasies  - 20/02/2009

Die Britse regering het bekend gemaak dat hulle tydelik die geskoolde werker kategorie vir verteenwoordigers van oorsese koerante, nuus-agentskappe en uitsaai-organisasies weer in werking gestel het. Die kategorie was een van vele wat geskrap is as deel van die veranderinge aan die VK se immigrasie-stelsel.

Die meeste aansoekers wat in die kategorie val kan normaalweg aansoek doen onder Vlak 2 van die punte-gebaseerde stelsel. Daar is egter 'n paar aansoekers wat nie kan kwalifiseer nie, aangesien hulle borge nie in die VK gebaseer is nie.

Die Britse regering het terselfdetyd aangekondig dat hy later 'n meer permanente oplossing sal vind vir die probleem, sodat die individue ook onder Vlak 2 kan aansoek doen. Sodra dit gebeur sal die tydelike her-instelling van die kategorie weer opgeskort word.

Verskeie tipes besoekers visums beskikbaar  - 13/02/2009

Breytenbachs het verskeie navrae ontvang van kliënte wat bekommerd is oor die nuus dat Suid-Afrikaners in die toekoms 'n besoekers visum gaan benodig om na die VK te reis. Gelukkig is daar 'n verskeidenheid van kategorieë besoekers visums beskikbaar en dit is ook moontlik om aansoek te doen vir 'n veelvoudige visum. Om groter duidelikheid te gee oor die situasie het Breytenbachs 'n kort opsomming saamgestel van wat beskikbaar is.

Die nuwe punte-gebaseerde immigrasie stelsel het ook tot gevolg gehad dat daar veranderinge aangebring is aan die visum vir besoekers aan die VK en aparte kategorieë vir besoekers is geskep.

Hoewel die reëls verander het, is dit belangrik om in gedagte te hou dat dit moontlik is om aansoek te doen vir veelvoudige besoekersvisums na die VK. Dit sal dus moontlik wees vir gereelde besoekers aan die VK om op 'n vliegtuig te spring na die VK, sonder die administratiewe rompslomp om eers aansoek te doen vir 'n visum. Sodanige visums kan uitgereik word vir tydperke van 6 maande, 1,2,5, of 10 jaar, maar die besoeker mag nie vir langer as ses maande op 'n slag bly nie. Die beskikbare kategorieë is;

Algemene Besoeker
Die kategorie is vir persone wat die VK vir minder as ses maande wil besoek, met geen bedoeling om te werk of te studeer nie.

Spesiale Besoekers
Hierdie kategorie sluit in; Kinderbesoekers, Persone wat privaat mediese behandeling verlang, Persone wat die VK binnekom om te trou of om 'n burgerlike verbintenis aan te gaan, Studente besoekers, Ouer van 'n kind op skool, Besoekers in transito via die VK en Voornemende studente.

Sport Besoekers
Hierdie kategorie laat professionele of amateur sportpersone toe om na die VK te kom vir 'n maksimum van ses maande. Hulle mag kom om deel te neem in sportbyeenkomste, toernooie of eenmalige liefdadigheidsbyeenkomste.

Vermaaklikheid Besoekers
Die kategorie laat professionele vermaaklikheidskunstenaars toe om die VK binne te kom om deel te neem aan musiek kompetisies of om in goedgekeurde kulturele byeenkomste deel te neem.

Besigheidsbesoekers
Die kategorie laat besigheidsbesoekers na die VK toe om sekere toegelate besigheidsaktiwiteite te doen soos; die bywoon van vergaderings, die reël van kontrakte of die teken van handelsooreenkomste of kontrakte, besoeke aan persele ens.

Dit is dus duidelik dat daar verskeie kategorieë beskikbaar is vir die voornemende besoeker aan Brittanje. Skakel ons gerus vir meer inligting. Suid-Afrikaanse kliënte is ook welkom om Breytenbachs Immigrasie CC te skakel in Suid-Afrika op 012 460 9959.

Nuwe visum vereistes vir Suid-Afrikaners wat na die VK reis - 10/02/2009

Vanaf 3 Maart 2009, sal Suid-Afrikaners wat na die VK wil reis as toeriste, vir 'n toeriste visum moet aansoek doen, alvorens hulle reis. Suid-Afrikaners wat voorheen na die VK gereis het met hul huidige paspoort, is uitgesluit van hierdie nuwe reël. Vanaf middel 2009 sal hulle egter ook moet aansoek doen vir 'n toeriste visum.

Die verwikkeling kom nadat Suid-Afrika nie aan die Verenigde Koninkryk se streng nuwe reëls oor paspoort en grens-beheer kon voldoen nie.

Die Suid-Afrikaanse minister van Binnelandse Sake, Me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula het gesê dat die Suid-Afrikaanse regering die besluit deur die Britse regering respekteer, en sal voortgaan met samesprekings oor die Britse regering se bekommernis oor die Suid-Afrikaanse paspoort- en grensbeheer.

Breytenbachs sal Suid-Afrikaners van hulp kan wees om toeriste visums te bekom. Meer inligting in die verband sal binnekort bekend gemaak word.

Vyf lande onderworpe aan nuwe visum reëls  - 09/02/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat streng nuwe visum reëls ingestel gaan word vir vyf lande, wat streng toetse deur die Britse regering oor paspoort en grens-beheer gefaal het. 

Besoekers aan die VK van Bolivia, Lesotho, Suid-Afrika, Swaziland en Venezuela sal vanaf middel 2009 moet aansoek doen vir 'n toeriste visum, alvorens hulle na die VK reis. Bykomend hiertoe moet enigeen wat van hierdie lande af reis, via die VK, 'n transit visum hê.

Kontak Breytenbachs gerus vir meer inligting in die verband.

Nuwe ID kaart nou ook vir ander immigrasie kategorieë - 09/02/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat verdere immigrasie kategorieë nou ook moet aansoek doen vir die nuwe ID kaart. Persone wat in sekere immigrasie kategorieë aansoek doen vir verblyf in die VK, sal tesame met hul aansoek, biometriese besonderhede moet verskaf vir die nuwe ID kaart.

Vanaf 31 Maart 2009, sal persone wat in die volgende immigrasie kategorieë, tesame met hul aansoek vir verblyf in die VK, biometriese besonderhede moet verskaf vir die nuwe ID kaart;   Akademiese besoekers wat vir minder as ses maande na die VK kom, Besoekers vir privaat mediese behandeling, Persone wat aansoek doen vir die groot-ouer visum, Huishulpe in privaat huishoudings, Afgetrede, onafhanklike persone, hul gades en kinders, sowel as Alleen-verteenwoordigers.

Huidiglik, reik die Britse 'Border Agency' ID kaarte uit aan buitelandse burgers wat aansoek doen vir verdere verblyf in die kategorieë - studente en diegene wat aansoek doen vir verblyf op grond van 'n huwelik.

Die ID-kaarte het 'n foto van die houer daarvan, naam van die persoon, geboorte datum, nasionaliteit en immigrasie status. 'n Elektroniese skyfie op die kaart bevat ook biometriese data soos die vingerafdrukke en 'n digitale foto.

Bank van Engeland sny rentekoerse to rekord lae koers  - 06/02/2009

Die Bank van Engeland het rentekoerse tot 'n rekord lae koers van 1% gesny, vanaf 1,5% die vorige maand. Rentekoerse is geleidelik verlaag vanaf 5% in Oktober 2009 tot die 1% in Februarie 2009.

Die BBC het berig dat volgens die Bank van Engeland die sny in die rentekoers, tesame met ander maatreëls deur die Britse regering die ekonomie 'n hupstoot sal gee in die komende jaar.

Daar is verder berig dat heelwat verbandleners die sny in die rentekoers deurgegee het op hul verbandleningskoerse aan kliënte.

Nuwe reëls oor Toeriste visums aangekondig - 03/02/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat die nie meer moontlik is om aansoek te doen vir 'n toeriste visum van binne die VK nie, maak nie saak op watter visum die aansoeker is nie. Dit sal egter steeds moontlik wees vir 'n persoon om sy toeriste visum te verleng van binne die VK tot 'n maksimum van ses maande.

Kolleges en Universiteite begin aansoek doen vir Borgskap lisensies - 28/01/2009

Die Britse 'Home Office' het gesê dat opvoedkundige instansies wat internasionale studente na die VK wil bring wanneer die nuwe Vlak 4 van die punte-gebaseerde immigrasie-stelsel in werking tree aan die einde van Maart 2009, aansoek moet doen vir borgskap lisensies voor 2 Februarie 2009. Instellings wat nie voor die datum aansoek doen nie, sal nie studente kan borg wanneer die nuwe Vlak 4 in werking tree nie.

Na wat berig word het meer as 800 instansies sover aansoek gedoen vir lisensies.

Vanaf Maart 2009, sal opvoedkundige instansie borgskap lisensies moet hê om studente van buite die VK plekke aan te bied. Wanneer daar geregistreer word as 'n borg, onderneem die instansie om verantwoordelikheid te neem vir die student wat by hul inskryf. Vlak 4 van die nuwe punte gebaseerde stelsel sal die huidige studente visum reëls vervang en sal geïmplementeer word oor die volgende twaalf maande.

Bank van Engeland verlaag rentekoerse na 1,5% - 08/01/2009

Die Bank van Engeland het rentekoerse verlaag na 1,5%. Die BBC berig dat dit die laagste rentekoers is, sedert die stigting van die Bank in 1694.

Die verlaging is die vierde een sedert Oktober 2008, toe die rentekoers op 5% gestaan het. Ontleders bespiegel dat die Bank rentekoerse dalk nou bestendig kan hou vir 'n ruk, sodat hulle eers die impak van die groot verlagings oor die afgelope paar maande kan bepaal.

Verbandleners sal na verwagting outomaties die verlaging deurgee aan kliënte met verbandlenings gekoppel aan die rentekoers.

Britse huispryse daal met 16% in 2009 - 07/01/2009

Die Guardian koerant het berig dat volgens syfers van die bougenootskap, Nationwide, huispryse met 15,9% gedaal het in 2008. Dit bring die gemiddelde prys van 'n huis in die VK te staan op £153,048. Halifax, 'n ander verbandlener in Brittanje, se syfers dui op 'n daling van 16,2% in die prys van huise in 2008. Volgens hulle syfers bring dit die gemiddelde prys van 'n huis in die VK te staan op £159,900.

Ontleders hoop dat die huidige lae rentekoerse sal help om die Britse huismark weer aan te wakker in 2009.

Kolleges en Universiteite begin toenemend aansoek doen vir borgskap lisensies - 06/01/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat meer as 520 Britse universiteite en kolleges reeds ingesluit is op die borgskap register. Die borgskap lisensies sal hulle toelaat om buitelandse studente na die VK te bring, ingevolge die nuwe reëls van die punte-gebaseerde immigrasie-stelsel.

Vanaf Maart 2009, sal opvoedkundige instansies 'n borgskap lisensie moet hê om plekke aan te bied aan oorsese studente van buite die EU. Wanneer hulle registreer as borg, neem hulle in effek verantwoordelikheid vir enige oorsese student wat by hulle inskryf ingevolge die nuwe reëls van Vlak 4, wat die huidige studente visum reëls gaan vervang.

Vlak 4 van die nuwe punte-gebaseerde immigrasie stelsel gaan uitgerol word oor die volgende 12 maande.

Hoeveelheid besighede wat registreer as borge neem toe - 06/01/2009

Die Britse 'Home Office' het aangekondig dat 4,875 besighede sover geregistreer het as borge, sodat hulle oorsese burgers in diens kan neem op Vlak 2 van die nuwe punte-gebaseerde immigrasie-stelsel.

Vlak 2 vir Geskoolde Werkers het die gewilde Werkspermit skema vervang in November 2008.

Kontak gerus ons kantore vir meer inligting.

 

Nuus
Britse Ekonomie   
Rentekoerse gehou op 0.5%.  08/01/2010
nog >>
Britse Eiendomsmark  
Afgelope dekade beste nog vir huispryse.  31/12/2009
nog >>
Identiteitskaarte  
ID-kaarte nou ook uitgereik aan Vlak 2 migrante en afhanklikes.  11/12/2009
nog >>
 
Julle vra, ons antwoord
'Ek het gerugte gehoor dat die gewilde twee-jaar werksvakansie visum opgeskort is. Is dit waar?'

Lees hier al die nuutste vrae en antwoorde oor knelpunte.   
nog >>
Wat ons kliënte sê
Weereens dan baie dankie vir die duisende vrae wat julle met Job se geduld beantwoord het, al die inligting wat julle stiptelik verskaf het en al die moeite wat julle vir my gedoen het. Ek het die hele SA rond vertel van julle wonderlike, vriendelike en stiptelike diens! Julle het my voorwaar baie spesiaal behandel en laat voel!

Ilana Viljoen 

 

Wil jy weet of jy kwalifiseer vir 'n Britse visum of werkspermit? Kliek hierso!

Teken in op Nuusbrief
Stuur aan 'n Vriend
© Breytenbachs. 2004Vrywaring | Gereguleer deur die Britse Prokureursorde