

|
|
||
| English | | | Afrikaans |
| info@breytenbachs.com | ||
| Fri, 22/8/2008 | ||
Om ‘n nuwe land te besoek of na ‘n nuwe land te trek, bring gewoonlik heelwat veranderinge teweeg. Ons het ‘n lys saamgestel van die mees belangrikste feite en riglyne wat die aanpassing vir die nuwe aankomeling in Londen iewat makliker sal maak. Kies gerus ‘n afdeling hieronder.
AkkommodasieOm huis te soek in Londen kan 'n oorweldigende taak wees. Daar is ontsettend baie huisvesting beskikbaar, so waar begin mens soek? Dan is daar ook die probleem dat eiendom ongelooflik duur is. Berei jouself daarop voor dat jy waarskynlik veel meer gaan betaal vir veel minder as waaraan jy gewoond is in Suid-Afrika. As jy pas in Londen aangekom het met nie veel meer as jou rugsak en jou entoesiasme nie, sal jy heel waarskynlik 'n woonplek met ander mense deel. Maar moenie bekommerd wees nie! Huissoek is deel van jou avontuur wat nou begin en as jy jou oë oophou, sal jy seker iets vind wat jou sak en smaak gaan pas.
Londen is in ses sones ingedeel. Sone 1 is in die middel en sones 2 tot 6 volg in 'n konsentriese sirkels op mekaar, soos 'n skyfskietteiken. In die algemeen sal jy vind dat hoe verder weg mens van die middel beweeg, hoe goedkoper word eiendomspryse. Daar is ook natuurlik duurder en goedkoper woonbuurte en jou begroting sal jou lei in die keuse van huisvesting in 'n spesifieke buurt. Hou ingedagte dat huurkontrakte gewoonlik vir 'n minimum van ses maande of meer gesluit word en nooit vir minder as dit nie. Daar is 'n paar verskillende woonopsies waartussen mens kan kies. Hier is 'n basiese uitleg:
KommunesBy verre die gewildste en goedkoopste behuising vir jongmense in Londen, is wat in Suid-Afrika bekend staan as kommunes. Dit is 'n huis of 'n woonstel wat gewoonlik deur soveel as moontlik inwoners gedeel word om kostes so laag as moontlik te hou. Dit kan 'n ontsettende gesellige en vriendelike opset wees, aangesien dit amper altyd reisigers van min of meer dieselfde ouderdom en met dieselfde doel voor oë is wat saam opeindig. 'n Goedgekose huis kan soos 'n familie in die vreemde word met al die voordele van wedersydse ondersteuning en ook toegang tot 'n bestaande netwerk van vriende en kennis oor werksgeleenthede en besienswaardighede.
VOORDELESommige jongmense kies om permanent in 'n jeugherberg of soortgelyke 'budget' hotelle te woon in plaas van 'n woonstel of 'n huis te soek. Dit is ietwat duurder as 'n kommune en gewoonlik deel mens 'n kamer met tussen drie en sewe mense, soms meer, in die algemeen met persone van dieselfde geslag. 'n Koshuis-styl badkamer word gedeel met ongeveer tien na twintig mense van beide geslagte. Gewoonlik is daar 'n kombuis en algemene sit-, eet- en speletjieskamer waar mens kan kos maak en kuier.
VOORDELE:'Bedsit' staan vir 'bed and sitting room" en soos die naam aandui, bestaan dit uit 'n kamer wat funksioneer as 'n slaap- en sitkamer met 'n klein kombuisie. In die algemeen word 'n 'bedsit' verhuur met 'n bed, 'n stofie en 'n yskas ingesluit en word daar 'n badkamer met 'n paar ander inwoners gedeel.
VOORDELESommige 'landlords' is vreeslik nuuskierig oor hulle inwoners en gaan soms so ver as om in hulle besittings te gaan rondkrap. Wees maar op die uitkyk vir die 'landlord' wat vir jou alles kan vertel van die ander huurders en jou dadelik begin uitvra oor jou kinderdae ensovoorts. Dit is waarskynlik nie 'n goeie teken nie!
'Studio flats', woonstelle en huiseVir die mense wat professionele werk doen en 'n groter begroting het vir behuising, is daar redelik baie eiendom beskikbaar. Wees gewaarsku: eiendom is heelwat duurder en ook aansienlik kleiner as waaraan ons gewoond is in Suid-Afrika waar daar onbeperkte spasie is. Dit is 'n goeie idee om na 'n eiendomsagent toe te gaan 'n idee te kry van wat beskikbaar is in jou prysklas. Let asseblief daarop dat dit onwettig is vir 'n agent om 'n fooi te hef om 'n eiendom te wys aangesien die verhuurder of verkoper die agent vergoed vir sy dienste. Wees versigtig vir agente wat jou wil uitbuit!
VOORDELENoudat jy 'n beter idee het van wat beskikbaar is, waar op aarde begin mens soek? Daar is oorgenoeg behuising in elke buurt beskikbaar en mens moet jou soektog afskaal na een of twee buurte toe, anders is dit 'n vreeslike mors van tyd en geld om van een kant van Londen na die ander te reis om na plekke te kyk . Die prys van eiendomme sal jou in 'n groot mate lei in jou soektog en sodra jy jou area afgebaken na 'n buurt of twee kan jy begin!
Hier is vele jongmense te vind: Canada Water, Leyton, Leytonstone, Walthamstow, Turnpike Lane, Finnsbury Park, Putney, Streatham, Willesden Green, Hammersmith, Earls Court, Bethnal green, Highbury, Islington, Northfields and Southfields.
Die volgende buurte is nader aan die middestad en in die voedingsgebiede vir van die beter skole in Londen: Epping en Thyden Bois (waar die een Suid-Afrikaanse kerk geleë is) is baie gewild asook die area rondom Wimbledon, Putney en Southfields.
Wembley is ook gewild maar 'n fraksie duurder aangesien dit nader aan die middestad is. Muswell Hill en Highgate is in 'n wonderlike area geleë en in die omtrek van goeie staatskole en privaatskole.
As jy alreeds in diens geneem is, is dit raadsaam om so naby as moontlik aan jou werk te woon. Pendel tussen werk en huis neem ontsettend baie tyd in beslag en word gou-gou 'n onaangename taak. Weereens sal jou begroting bepaal in watter buurt jy woon. As jy nog nie werk het nie, is daar twee opsies: kry eerste van alles vir jou werk en kies dan 'n area relatief naby jou werkplek. Alternatiewelik kan jy eerste jou akkommodasie bevestig en dan 'n werk daarnaby soek. Die voordeel hiervan is dat jy dadelik 'n telefoonnommer het waar moontlike werkgewers en familie jou kan kontak. Verder is dit baie lekkerder om na jou eie huis toe te gaan na 'n lang en vermoeiende dag van rondloop en werksoek as na 'n jeugherberg of 'n hotel!
WAAR BEGIN EK SOEK?Die beste plek om te begin soek is in die volgende koerante:
The Loot (wat absoluut alles onder die son adverteer),
The London Evening Standard,
en die TNT Magazine.
Jy sal vinnig agterkom presies hoeveel huisvesting daar beskikbaar is sowel as watter buurte bekostigtigbaar is vir jou.
Nog 'n alternatief is om na 'n behuisingsagent toe te gaan. So kan jy vinnig 'n goeie idee kry van wat beskikbaar is in jou prysklas. Let asseblief op dat agente alleenlik werk met 'studio flats',woonstelle en huise en kan dus nie help met 'shared housing' en jeugherberge nie.
Wanneer jy na 'n eiendom gaan kyk, wees gereed om 'n paar vrae te vra:
Soms versoek voornemende verhuurders 'n getuigskrif, so bring een saam wat sê dat jy 'n goeie huurder was en dat jy altyd jou huur betyds betaal het. Maak asseblief seker dat dit in Engels geskryf is, 'n Afrikaanse getuigskrif is waardeloos in Engeland!
VOOR JY TEKEN, LEES EERS HIER!Dit is absoluut noodsaaklik dat jy naby aan 'n 'Tube'-stasie, treinstasie of bushalte woon. Een van die dinge wat die grootste bydrae gaan maak tot jou geluk in Londen, is die nabyheid aan openbare vervoerstelsels, hoe nader en hoe meer hoe beter! So maak die lewe vir jouself maklik en soek huisvesting binne stapafstand van een of meer vervoerstelsels! Ook om binne stapafstand vanaf winkels, supermarkte, 'corner shops', restaurante en 'pubs' te woon, maak die lewe veel makliker. Daar is niks so sielsdodend as om na 'n lang dag by die werk by die huis te kom en dan agter te kom dat jy weer op 'n bus moet klim om melk te gaan koop nie. Dink of dit vir jou belangrik is om naby restaurante en 'pubs' te woon en pas jou keuse daarby aan voordat dit te laat is!
BEKLINK DIE TRANSAKSIEWanneer jy tevrede is met al die spesifikasies, is dit tyd om die kontrak te teken. As jy jou kamer, woonstel of huis gaan huur, is dit relatief maklik. Die agent of huurder sal 'n kontrak verskaf wat deur altwee die partye geteken word. Maak seker dat die huurbedrag en die duur van die kontrak korrek is en kom ooreen oor hoe en wanneer die huur betaal gaan word. Maak seker dat jy 'n afskrif van die kontrak kry en bewaar dit veilig.
Lees die kontrak behoorlik en verseker dat die kontrak jou beskerm en nie net verpligtinge op jou plaas nie. Maak doodseker watter kostes by beëindiging van die kontrak van jou deposito verhaal sal word. Skoonmaak kostes vir matte en gordyne kan jou hele deposito opneem en moet jy dalk nog geld inbetaal. Gewoonlik begin jou probleme eers wanneer jy die kontrak beëindig en jou deposito terugeis.
Voorsorg is beter as nasorg! Staan op jou regte, dring aan op bewys van jou deposito asook elke betaling. Indien jy deur 'n agent werk versoek dat die deposito in sy trustrekening betaal en bewys daarvan gelewer word (bv. afskrif van deposito strokie) en dit nie aan die verhuurder oorhandig word nie. Wanneer jy dan jou kontrak beëindig kan die agent nie sê jy moet die deposito self van die verhuurder verhaal nie.
Beskerm jouself deur 'n behoorlike inventaris in die teenwoordigheid van 'n getuie en die agent of verhuurder op te stel wanneer jy in 'n nuwe woonplek intrek. Die agent of verhuurder het gewoonlik reeds 'n inventaris. Moenie dit net sommer teken en aan hul teruggee nie, maar gaan dit noukeurig na en maak so volledig moontlik notas van die toestand en hoeveelheid van elke meubelstuk, breekware, asook enige skade aan die mure, ligte, deurslotte, matte en vensters. Sorg dat jy die inventaris persoonlik aan die agent of verhuurder oorhandig en dat beide die oorspronklike en jou afskrif deur die agent of verhuurder geteken word en aan die kontrak geheg word. Dit is baie belangrik dat jy 'n afskrif van die getekende inventaris hou, anders is dit jou woord teen die agent of verhuurder dat die eiendom in so 'n toestand was toe jy daar ingetrek het. Baie agente of verhuurders sal 'n rede soek om nie jou deposito terug te betaal nie en jou aanspreeklik hou vir enige skade aan meubels, mure matte ens., self al was dit reeds in so 'n toestand toe jy ingetrek het.
FEITE OOR DIE HUUR VAN EIENDOMDie koop van eiendom in Londen is 'n ingewikkelde saak. Breytenbachs sal hier van hulp kan wees. Kontak gerus ons kantore.
As jy bekommerd is oor die beskikbaarheid van werk in Londen, moet geensins verder bekommer nie! Londen is een van die grootste stede in die wereld met 12 miljoen inwoners en die arbeidsmark is amper onversadigbaar. 'n Klein bietjie ervaring in enige veld behoort jou ver te bring in jou soektog na werk. Daar is geen verskoning om werkloos te wees in Londen nie - as jy bereid is om te werk, sal daar iets wees vir jou om te doen!
Wees gewaarsku dat dit op hierdie stadium onmoontlik is om sonder 'n toepaslike visum te werk in Engeland. Voordat jy aangestel word, wil elke aspirant werkgewer onmiddelik jou paspoort plus visum sien om seker te maak dat jy 'n wettige werker is. Daar is heelwat permitte en visums beskikbaar vir die voornemende werker in Londen en watter een die beste is, hang grootliks af van elke persoon se individuele situasie. Breytenbachs kan hier die beste adviseer oor visums en permitte: watter een jy voor kan kwalifiseer plus al die vereistes en dan verder jou ook bystaan in die verkryging van die paslike visum.
Curriculum VitaeDit is 'n goeie idee om 'n Cirruculum Vitae voor te berei selfs voordat jy weggaan. Maak seker dat enige werkservaring wat moontlik van toepassing kan wees, aangedui is - elke bietjie ervaring help! Let op dat werksgewers dikwels die referente wat op CVs aangedui is bel om seker te maak van die feite - so laat weet jou referente dat hulle moontlik gebel kan word, vir jou eie gemoedsrus. Sorg dat jou CV professioneel en volledig voorkom, maar ook nie oorvloei met onbelangrike details nie. 'n Werkgewer wil in een oogopslag sien wat jy al gedoen het en wat jy vir hom kan doen. Dit is raadsaam om al jou ervaring en kwalifikasies vinnig op te som op een bladsy en dit dan op te volg met 'n meer volledige uitleg van jou vele talente! Gapings tussen verskillende werke laat werkgewers senuweeagtig voel, so dui tye aan waar jy besig was om bv. te reis of wanneer jy op vakansie was.
Waar begin mens soek?Daar is 'n hele paar maniere om vir jouself werk los te slaan. Die vinnigste en maklikste is waarskynlik:
Iets wat in jou guns tel, is die blote feit dat jy 'n Suid-Afrikaner is! Dit help miskien nie soveel met die verkryging van jou visum nie, maar as jy eers daar is, raak werkgewers werklik bly as hulle hoor dat jy Suid-Afrikaans is. Waarom? Suid-Afrikaners het die reputasie dat hulle harde en vriendelike werkers is wat amper nooit kla nie. Dus, waar ookal jy begin werk, sal jy dalk heel waarskynlik nog 'n paar Suid-Afrikaners aantref! Mense werk hard in Londen en daar sal ook van jou verwag word om jou deel te doen en eerlik te wees oor die aantal ure en die hoeveelheid werk wat jy doen.
As jy in 'n kantoor werk, word daar van jou vereis om netjies en professioneel aan te trek. Neem dus vir jou klere saam wat in so 'n situasie kan inpas.
Daar is gewoonlik 'n mengelmoes van mense, rasse, tale en gelowe wat saam in 'n kantoor werk en dit is 'n uitstekende kans om 'n paar vriende te maak en ander kulture te leer ken.
Belasting en 'National Insurance'Elke persoon wat werk in Engeland moet 'n National Insurance (NI) nommer hê. Wanneer jy begin werk, word daar 'n tydelike nommer aan jou toegeken wat bestaan uit jou geboortedatum, die eerste twee letters van jou van en 'F' of 'M' vir vroulik of manlik. Jy begin belasting betaal op 'n hoër skaal - dit word 'Emergency Tax' genoem. Volgende moet jy so gou as moontlik by 'n DSS (Department of Social Services) uitkom om aansoek te doen vir jou permanente NI nommer. Hier moet jy 'n paar vorms invul en 'n beampte sal jou registreer. Bring jou paspoort saam sodat die toepaslike visum of werkspermit gesien kan word. Dit neem gewoonlik so 6 weke om jou nommer en kaartjie te kry. Met jou NI nommer het jy toegang tot gratis gesondheidsdienste en moontlik 'n paar voordele sou jy daarvoor kwalifiseer.
Nog 'n paar dinge!Diegene wat daarin belangstel om hulle eie besigheid te begin, kan gerus ons kantore kontak vir verdere advies.
Anders as in Suid-Afrika, is jou eie motor heeltemal onnodig in Londen. Publieke vervoer is vinnig, veilig en effektief, waar jy ookal wil wees, daar is een of ander vorm van openbare vervoer. Ondergrondse en bogrondse treine, busse en huurmotors - daar is geen tekort aan vervoermiddels in Londen nie!
Dit is die ondergrondse treine wat in tonnels onder die hartjie van Londen ry en waarmee jy net omtrent orals in Londen en omgewing kan kom. Miljoene Londenners gebruik elke dag die 'Tube' as hulle hoofvorm van vervoer tussen werk en huis. Die Tube is so beroemd in Londen soos Buckingham Paleis en jy sal orals T-hemde sien met die Tube simbool op of die beroemde aankondiging in die stasies: "Mind the gap!" Piekverkeertye is ontsettend besig en beknop: jy dink dat daar nie meer plek is vir 'n muis nie en dan druk daar nog tien mense in by die volgende stasie! .
Daar is 'n paar treinlyne wat in elke rigting uitsprei en alhoewel die sisteem af en toe vreeslik gekompliseerd lyk, sal jy gou-gou gewoond raak daaraan om jou roete uit werk met 'n Tube' kaart voor jou en dalk 'n helpende hand van iemand wat weet.
Om rond te ry op die 'Tube' is heel opwindend en jy weet dat jy eg Londens is wanneer jy nie eers meer hoef te dink oor hoe jy nou moet ry nie!
Hoe dit werk: Jy koop vir jou 'n kaartjiie by die outomatiese masjien. Elke stasie op die kaart word verteenwoordig deur 'n knoppie, alfabeties gerangskik. Kies jou eindpunt en druk dan die knoppie vir 'n enkelreis of 'n retoerreis. Die bedrag wat jy moet betaal sal aangedui word en sodra jy die geld ingegooi het, sal die masjien jou kaartjie en kleingeld uitspoeg.
Alternatiewelik kan jy 'n 'Travelcard' koop. Hiermee kan jy onbeperk rondry binne die sones wat op jou kaartjie aangdui is, nie net op die 'Tube' nie, maar ook op busse, nagbusse en bogrondse treine. As jy beplan om baie rond te ry, is dit beslis 'n meer ekonomiese opsie. Jy moet ook, voor jy koop, besluit in watter sones jy jou kaartjie wil gebruik - aangesien Sone 1 die duurste is, maak dit 'n groot verskil in die prys of dit ingesluit is of nie. So kyk mooi in watter sones jy wil rondry en pas jou keuse daarby aan. 'Travelcards' is beskikbaar in die vorm van 'One Day Travelcards' (net geldig vir een dag) en 'Weekend Travelcards' (Saterdag en Sondag en 'n bietje goedkoper as twee 'One Day' kaartjies).
As jy die 'Tube' gebruik om werk toe te gaan kan jy vir jouself Oystercard kry, dit lyk soos ‘n kredietkaart en jy kan dit aanvul by stasies, via die internet of oor die foon. Al wat jy hoef te doen is om jou kaart by die draaihekke te trek by die tube stasie of op die bus, voor en na jou reis.
Vergeet daarvan om te probeer slim wees en maniere te vind om die sisteem te 'kroek'. Daar is outomatiese draaihekke waardeur jy jou kaartjie sit om toegang tot die treine te kry en daar is altyd wagte wat uitkyk vir mense wat gou-gou probeer oorspring. Daar is ook elke nou en dan kondukteure wat opklim en almal se kaartjies bekyk om te sien of alles reg is. As jy gevang word moet jy onmiddelik 'n boete betaal. Nie regtig die geld en konstante stres werd nie!
Onthou om op die roltrappe aan die regterkant te staan en aan die linkerkant verby te gaan en behoed jou siel as jy in iemand se pad staan! 'n Haastige Londonaar is nie vriendelik as iemand die konstante vloei van mense blokkeer nie!
Kaarte en hulp is beskikbaar by die bemande hokkies binne die stasies. Moenie bang wees nie; kry vir jou 'n kaart en spring in! Die tube is een van die avonture om te beleef in Londen en 'n ervaring op sy eie!
Vir meer inligting oor die publieke vervoer in Londen, besoek gerus www.tfl.gov.uk
Busse en NagbusseDaar is 'n fantastiese busstelsel in Londen met roetes wat absoluut orals heengaan. Daar is ook vele stadstoere beskikbaar op die rooi opelug busse, en dit is regtig 'n goeie idee om aan een van hierdie toere deel te neem sodra jy in Londen aankom. So kry jy 'n goeie idee van die uitleg van die stad en kan jy mooi kyk na watter besienswaardighede jy later na terug wil kom. Die bustoere werk op die "Hop on, Hop off" beginsel. Mens ry op die bus totdat jy êrens wil afklim om iets te sien. Wanneer jy klaar is, wag jy net by daardie busstop en klim weer op sodra die bus verby kom. Jy mag soveel keer as wat jy wil op- en afklim op een dag.
Daar is ook natuurlik plekke waarheen die 'Tube' nie ry nie en hier is die bus jou beste oplossing. Die enigste nadeel van met die bus ry is dat hulle soms vassit in die verkeer, 'n probleem wat mens natuurlik nie het met die Tube nie.
Nagbusse ry dieselfde roetes en word aangedui met 'n "N" voor die roete nommer. Hierdie busse begin ry wanneer die gewone busse ophou en is die goedkoopste manier om weer tuis te kom as die 'Tubes' al opgehou ry het. Die meeste roetes gaan deur Trafalgar Square, dus kan jy daar oorstap op 'n ander roete indien nodig.
Die webblad www.transportforlondon.gov.uk kan geraadpleeg word vir enige inligting rakende tariewe, roete-tye, inligting oor toere en vele meer.
'National Rail'Nog 'n manier om oor die weg te kom in Londen is die bogrondse 'National Rail' treine. Hierdie treine ry in die buitewyke van Londen en natuurlik ook na die dorpe en stede om Londen as jy vir 'n dag of naweek weg wil gaan om 'n bietjie te gaan verken. Dit is teoreties moontlik om, as jy in Sone 3 of 4 woon en werk, nooit die Tube hoef te neem nie en geheel en al oor die weg te kom met hierdie tipe vervoer; 'n pluspunt aangesien hierdie treine minder vol is gedurende piektye en dit ook altyd goedkoper is om Sones 1 (en 2) te vermy.
Vir meer inligting oor die publieke vervoer in Londen, besoek gerus www.tfl.gov.uk
'Black cabs' en 'Minicabs''Black cabs' is die swart huurmotors wat jy in elke fliek sien wat al in Londen geskiet is. Dit is 'n vinnige en gerieflike manier om van punt A na B te kom, maar aangesien hulle redelik duur is, is dit miskien meer van 'n luukse as 'n daaglikse manier van reis. Die prys word bepaal deur middel van 'n meter wat die afstand meet. Snags en wanneer jy baie bagasie by jou het, sal daar 'n ekstra fooi gehef word. Wanneer 'n 'black cab' beskikbaar is, sal die geel lig op die dak aangeskakel wees en hoef jy net jou arm op te steek om hom te stop. 'Black cabs' neem 'n maksimum van vyf passasiers.
'Minicabs' is 'n ander tipe huurmotor en kan jy nie gewoon op straat roep nie. Jy moet die maatskappy bel en 'n motor bespreek of anders by die kantoor, gewoonlik op straat ingaan en daar 'n motor bespreek. Spreek die prys van die rit af wanneer jy die huurmotor bespreek. Daar lê altyd honderde pamflette orals rond wat 'minicabs' adverteer - as jy een nodig het, tel op enige plek 'n pamflet op of kyk uit vir die kantore op straat.
Oor die algemeen is 'cabs' redelik veilig maar wees versigtig en moenie vrou-alleen laat in die nag rondry nie. As dit nie anders kan nie, maak seker dat 'n vriend of vriendin, in volle sig van die bestuurder, die registrasie nommer van die motor, asook die maatskappy se telefoonnommer neerskryf.
Wees versigtig vir ouens in privaatmotors wat buitekant nagklubs en kroeë rondhang om mense te probeer op laai.
Te voetLaaste maar nie die minste nie, kan jy wonderlik te voet oor die weg kom. Veral in die hartjie van Londen kan die afstande tussen Tube stasies werklik klein wees en kan mens lag-lag daardie afstand stap. Op die bus of op die trein gaan daar soveel dinge by jou verby, maar wanneer jy stap, kry jy regtig die Londen gevoel, die duisende mense op straat, al die vreemde (en bekende!) reuke en wonderlike dinge wat jy nog nooit gesien het nie. Dit is tog die rede hoekom jy in die eerste plek jou tuiste verlaat het, om nuwe en fantastiese dinge te beleef.
Daar is ook georganiseerde staptogte waaraan mens kan deelneem, baie van hulle met een of ander tema, soos byvoorbeeld die 'Jack the Ripper' toer of die ' Georgian Architecture' toer. 'n Wonderlike manier om 'n bietjie geskiedenis saam met jou oefening in te kry!
MOTORKOOP IN LONDENIndien jy sou besluit om self 'n motor aan te skaf, het jy die keuse om by 'n formele handelaar of by 'n sogenaamde "motor supermark" rond te snuffel. Met 'n bietjie geduld kan jy 'n ware winskoop raakloop, hetsy jy in 'n nuwe of tweedehandse motor belangstel. Indien jy 'n gebruikte motor koop, dring aan op die volledige geskiedenis van die motor asook op 'n meganiese waarborg. Verskeie versekeringsopsies is ook beskikbaar ten opsigte so 'n waarborg.
Dit mag die moeite werd wees om kennisse en vriende in kennis te stel van jou voornemens om 'n motor te koop, wat kan verseker dat jy 'n winskoop by 'n betroubare verkoper bekom. Dit is altyd raadsaam om die goeie en minder goeie punte van 'n spesifieke fabrikaat motor vas te stel voordat jy jou hart verloor. Onthou dat Europa het 'n wye verskeidenheid motors wat in die algemeen onbekend is aan Suid-Afrikaners en jy moet maar altyd waak teen slinkse verkoopmanne.
Sommige nuwe fabrikaat motors kan teen heelwat minder as die vloerprys in Brittanje ingevoer word vanuit sekere Europese lande. Doen gerus by die handelaars hier oor navraag. Gebruikte motors kan vanaf 'n paar honderd pond bekom word en die pryse wissel na gelang van die motor se ouderdom. Maak altyd seker dat jy `n markverwante prys (die boekwaarde) betaal, soos aangegee in die gidse wat algemeen bekombaar is.
Om 'n motor op jou naam te kan registreer, benodig jy die volgende:
Afhangende van die motor se waarde asook die area waar jy woon, wissel die versekeringspremie ook van maatskappy tot maatskappy, gekoppel aan jou profiel as bestuurder.
Jy kan vir een jaar met jou Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie in Engeland bestuur waarna jy dit met 'n Britse bestuurderslisensie moet vervang. Dit is normaalweg nie nodig om 'n eksamen af te lê nie en dit behels bloot 'n aansoek-prosedure. Vorms is by die poskantoor beskikbaar en na die aansoekprosedure reik die owerheid die Britse bestuurderslisensie uit.
"When a man is tired of London, he is tired of life" - Samuel Johnson
Daar is absoluut geen tekort aan vermaak in Londen nie. Presies die teenoorgestelde. Daar is soveel om te doen dat dit 'n moelike keuse word en sal jy vind dat jou vermaak gepas word aan die hoeveel ponde jy in jou sak het. Londen is 'n onuitputbare bron van restaurante, 'pubs', teaters, konsertgeboue, nagklubs, museums, winkels en besienswaardighede. Dit is miskien waar om te sê dat Londen die mees kosmopolitaanse stad in die wereld is met al die invloede van Europa, die Ooste, die Midde-Ooste, Afrika en die Amerikas wat almal op hierdie eiland bymekaar kom. Juis vir hierdie rede kan mens 'n deeltjie van elke land, taal en kultuur onder die son te sien kry.
EET & DRINK IN LONDENMiskien die oudste en gewildste Engelse tradisie is die 'pub'. Dit is die kroeg, jou "tweede huis" waarheen jy gaan om jou vriende te ontmoet na 'n dag se harde werk en 'n bier of twee te drink. Bier word 'lager' genoem in Engeland en kom in die vorm van 'n 'pint' (uitgespreek om te rym met 'mind') wat ongeveer 'n halfliter-grootte glas is. Een grootte kleiner is die 'half pint', soos die naam aandui, is dit die helfte van 'n 'pint'. 'Pubs' word geken aan hulle redelike donker en rokerige interieure, 'n houtkroeg in die middel waar jy jou drankies bestel en die standaard groepie ouerige Engelsmanne wat jare en jare lank al na dieselfde 'pub' toe kom. Heelwat mense eet gereeld aandete by hulle 'local pub', kos wat bekendstaan as 'pub fare' en altyd ou gunstelinge insluit soos 'bangers & mash' (varkworsies en aartappels), 'fish & chips' en allerhande soorte pasteie.
Sommige 'pubs' is verbonde aan 'n spesifieke brouery en verkoop slegs bier wat deur die brouery gebrou word. Gewoonlik is dit 'n warm, donker bier sonder gas wat 'ale' genoem word. As jy die woorde 'free house' buite op die naambord sien, weet jy dat alle soorte biere daar verkoop word.
Daar is ook natuurlik ander plekke om 'n drankie te geniet. 'Wine bars' en 'cocktail bars' is in oorvloed te vind vir 'n meer moderne gevoel met musiek en heel dikwels 'bands' wat speel. Loop so 'n bietjie rond in die omtrek van Leicester Square of Covent Garden waar daar strate vol van hierdie tipe uithangplekke te vind is.
Restaurante en 'chippies'Soos jy baie gou sal agter kom, is daar meer vreemdelinge in Londen as wat daar Britte is. Dus kan jy kookkuns van elke land in die wêreld vind hier aantref en hang dit net af van jou begroting hoeveel en waar jy kan eet!
Die laagste trappie in die voedselketting is wat bekend staan as die 'chippie'. Dit is hier waar jy olierige vis en skyfies met bruin sous toegedraai in koerantpapier kry, asook piekeleiers. Onder andere kan jy sjokolade wat in deeg gedoop en dan gediepbraai word hier koop.
Restaurante kan sonder enige moeite orals gevind word. As jy van Chinese kos hou, is 'China Town' in Soho 'n goeie keuse, lekker kos teen redelike pryse. Loop rond en lees die spyskaarte wat teen die vensters opgeplak is.
Die Time Out Magazine se Eating & Drinking Guide sal jou verder alles vertel wat jy graag wil weet oor restaurante in Londen.
TEATER EN MUSIEKTeater is al vir honderde jare 'n onafskeidbare deel van vermaak in Londen. Van Shakespeare se dae is die teater sterk bevestig in Engelse kultuur en het Londen een van die belangrikste trekpunte in die wereld geword. In die beroemde 'West End' van Londen vind jy die grootste versameling van teaters waar jy bekende stukke soos 'Les Miserables' kan sien, asook 'n massiewe versameling van tradisionele en alternatiewe teaterstukke.
Kaartjies is te koop by die teaters self en hier is dit ook die goedkoopste aangesien jy geen kommissie betaal nie. Alternatiewelik kan jy kaartjies deaur 'n agent koop, maar maak seker dat jy 'n betroubare agent beet het wat nie vervalste kaartjies aan jou probeer afsmeer nie. Agente verkoop of telefonies kaartjies of is te vind in hokkies in Leicester Square en Covent Garden.
Londen is 'n fees vir die musiekliefhebber; elke musikant of groep wat sy sout werd is of nie, maak 'n draai in Londen. Die grootste konserte vind plaas by Wembley Arena, London Arena en Earl's Court wat stadion grootte byeenkomste trek. Nog plekke, nie heeltemaal so groot nie, maar steeds 'n groot storie, is Shepherd's Bush Empire en The Forum.
Kyk in die Time Out tydskrif vir 'n volledige gids van wat daar te sien is in Londen, asook adresse en telefoonnommers van teaters en agente.
BESIENSWAARDIGHEDEMaak nie saak of jy net 'n vinnige besoeker aan Londen is en of jy vir jare en jare al hier woon nie; daar is 'n paar besienswaardighede wat jy eenvoudig moet sien as deel van jou ervaring van Londen.
Buckingham Palace - St. James's Park Tube
Laat jou foto neem saam met die paleiswagte wat beroemd is daarvoor dat hulle nie 'n vinger mag roer nie, maak nie saak wat nie! Die 'Changing of the Guard' trek duisende toeriste. Wanneer die koningin in die paleis is, is haar vlag gehys.
Parlementshuis, Big Ben en Westminster Abbey - Westminster Tube
Drie van die bekendste geboue in Londen. Guy Fawkes het in 1605 die Parlementsgebou probeer opblaas maar gelukkig is dit nou nog te sien. Westminster Abbey is die kerk waar die Engelse konings en koninginne al vir die afgelope duisend jaar gekroon word en is 'n verstommende gebou om te sien. Big Ben spreek vir homself, die beroemdste kloktoring in die hele wêreld.
The Tower of London - Tower Hill Tube
Hierdie manjifieke tronk, paleis en kasteel is gebou in 1066 net nadat Willem die Grote Londen binnegeval het . 'n Wrede en bloederige geskiedenis en ook die regte egte kroonjuwele kan hier gesien word. Beslis die moeite werd!
London Bridge - London Bridge or Tower Hill Tube
Een van die bekendste simbole van Londen. Daar is ook 'n museum wat die geskiedenis van die brug uitle.
St. Paul's Cathedral - St. Paul's Tube
'n Asemrowende katedraal wat in die Tweede Wêreldoorlog gebombardeer is, maar dit oorleef het.
Natural History Museum - South Kensington Tube
'n Fantastiese museum met ongelooflike uistallings wat net nooit ophou nie. Kom vroeg daar sodat jy genoeg tyd het vir rondloop en rus aangesien hierdie museum baie groot is.
Museum of London - St.Pauls of Barbican Tube
Kom hiernatoe vir alles wat jy wil weet oor die lang en kleurvolle geskiedenis van Londen.
Science Museum - South Kensington Tube
'n Wonderlike museum waar jy alles en nog wat oor wetenskap kan uitvind en met baie van die uitstallings kan speel.
Madame Tussaud's Wax Museum - Baker Street Tube
Hierdie museum is natuurlik uiters beroemd en vele mense sal voel dat hulle besoek aan Londen net die moeite werd was as hulle nie hier was nie.
Planetarium - reg langs Mme Tussaud's
National Gallery - Leicester Square Tube
Vir diegene wat in kuns belang stel is hierdie museum 'n moet! Toegang tot gallerye in staatsbesit is gratis, so mens kan weer-en-weer gaan om die hele versameling te sien.
Tate Britain - Pimlico Tube and Tate Modern - Southwark Tube
Nog twee museums wat dubbel en dwars die besoek werd is. Wêreldberoemde kunswerke is hier te sien, modern en antiek.
Hyde Park - Hyde Park tube of Bayswater Tube
Jy mag nie uit Londen weggaan voor jy in hierdie park rondgeloop het nie. Gaan luister ook in die beroemde Speaker's Corner na sprekers wat oor alles en nog wat iets te sê het.
Marble Arch - Marble Arch Tube
'n Model van die Arc d'Triomph in Parys.
KOOP KOOP KOOP!Vir die wat inkopies wil doen in Londen, hier volg 'n lys van die gewildste areas:
Oxford Street
Hierdie straat is die tuiste van allerhande winkels, van klere en skoene tot boeke en musiek en die pryse is redelik laag. Gaan kyk na een van die bekendste departementwinkels in Londen met die naam van Selfridges en ervaar die atmosfeer van honderde opgewonde mense wat aan't koop is. Saterdae en Sondae is baie besig, wees gewaarsku!
High Street Kensington
Eksklusiewe winkels en boetieks, hier vind jy artikels in 'n ietwat hoër prysklas. Daar is ook 'n vlooimark, half bo-gronds en half ondergronds waar jy alles van goedkoop klere tot baie vreemde bykomstighede kan opspoor.
Camden Town
Miskien die mees bekende mark en winkelarea in Londen, hier vind jy alles en nog wat. Klere, skoene, juwele, musiek, maaltye van elke beskrywing, 'arts & crafts', meubels, kerse, kunswerke, tattoeërkunstenaars, enigiets waaraan iemand al gedink het om te maak.
Harrods
Die allerberoemdste departementswinkel.. Neem die Knightsbridge tube en gaan bekyk die bastion van inkopies doen en giggel 'n bietjie oor van die pryse.
Covent Garden
Hier is 'n mark met stalletjies wat allerhande ware verkoop, beter kwaliteit en ietwat duurder. Hier kry mens altyd mense wat maak of hulle standbeelde is vir verbygangers se kleingeld. Loop deur die mark en gaan luister na die klassieke musiek wat die hele dag opgevoer word by die restaurantjie onder grondvlak.
Die weer in Engeland en watter klere om te vat:
Wat jy kan verwag is baie bewolkte weer en af en toe reën, dit is dus handig om 'n klein opvou-sambreeltjie by jou te dra. Onthou om genoeg warm klere en onderklere saam te neem aangesien dit werklik koud word in die winter. Waterdigte skoene is 'n moet, asook 'n waterdigte jas ('n 'drymac' werk ook goed teen reën en koue). Dit is nie regtig nodig om vir jou baie informele klere saam te vat nie aangesien dit maklik bekombaar is en daar fantastiese klere te koop is wat mens nie in SA kry nie. Wat jy regtig moet saam vat, is ten minste een of twee formele uitrustings en netjiese skoene wat jy kan aantrek wanneer jy na onderhoude toe gaan. As jy in 'n kantoor gaan werk, is dit 'n vereiste om netjies te lyk. Vir dames: pak vir jou n romp- of broekpakkie in, met 'n paar bloese wat gemeng kan word. Vir die mans: pak vir jou ten minste een pak in met 'n paar dasse en 'n paar hemde. Liewer te veel as te min!
Die Englese se nasionale drankie is tee.
'Sorry!' Britte sal om verskoning vra as hulle jou stamp, as jy hulle stamp of net as hulle enigsins naby jou kom. (Let op: nie van toepassing op die Tube nie!) As jy op iemand se toon trap, sal hulle jou om verskoning vra, maar daar word ook seker verwag dat dit 'n wedersydse omverskoning vraery moet wees.
Britte op die Tube is nie altyd vriendelik nie. As jy vir iemand glimlag, sal hulle heel waarskynlik na jou kyk of jy mal geword het.
Zebrastrepe: As jy by zebrastrepe kom met gelerige lampe aan beide kante van die straat, mag jy heel veilig die straat daar oorsteek. Bestuurders is veronderstel om stadiger te ry sodat jy rustig mag oorloop. Wees maar versigtig voor jy loop, net vir ingeval.
Bobby: (Bobbies - meervoud): Hulle is die polisiemanne, in swart gekleed, met die harde bolhoedjies.
Die National Health Service en jou gesondheid
Wanneer jy na 'n vreemde land toe gaan moet mens altyd mooi na jou gesondheid kyk aangesien daar vreemde virusse en bakterieë in die omloop is waaraan jou ligaam nie gewoond is nie. Drink baie water en neem 'n multi-vitamien om jou immuun-stelsel in stand te hou.
As jy siek word of 'n besering opdoen, kan jy na een van die NH (National Health) dokters of hospitale toe gaan. Dit is baie belangrik dat jy, sodra jy jou NI nommer gekry het, gaan registreer by 'n dokter of 'n mediese sentrum. Registrasie is stap 1 wanneer jy mediese hulp nodig het en dit is beter dat jy dit doen voordat daar 'n noodgeval is. Jy kan 'n lys kry by jou DSS kantoor met die name en adresse van dokters, tandartse en hospitale waarnatoe jy kan gaan vir gratis of gesubsidieërde sorg.
SAD sindroom: Hierdie is 'n verskynsel wat voorkom in lande waar dit baie koud is en waar die son min skyn in die winter. Dokters het gevind dat mense 'n fisieke en psigologiese gebrek ontwikkel in wintertye omdat daar nie genoeg Vitamien D in hulle ligggame is nie en dit dan lei tot 'n hele lys ongesteldhede, onder andere depressie.
Kultuurskok: Daar is so baie dinge in Engeland wat vir ons bekend is omdat ons kultuur in SA baie Europese elemente bevat. Die taal is bekend en daar is so baie Suid-Afrikaners in Londen dat jy soms gaan voel of jy nog in SA is! Ander kere gaan alles sleg en verkeerd voel en gaan jy wonder hoekom jy ooit na Brittanje toe gekom het. Dit is wanneer kultuurskok jou byt. Daar is drie fases waarin kultuurskok ingedeel word:
FASE 1: Opgewondenheid!
Alles is nuut en opwindend en jy is so bly dat jy gekom het. Jy besluit dat jy nooit weer huistoe gaan nie, want heel duidelik is alles veel beter hier. Jy kan meer geld verdien, die kos is lekkerder, die mense is vriendeliker en niemand sê jou voor nie. Wat 'n wonderlike plek!
FASE 2: Negatiwiteit.
Die nuwigheid is nou nie meer so nuut nie en jou lewe is in 'n stewige roetine van werk en eet en slaap en werk en eet en slaap. Jy mis almal by die huis vreeslik en bel of e-pos elke dag. Jy haat die Tube en die weer en die onvriendelike mense en wil net huistoe gaan. Jy gaan nooit meer uit nie en voel ellendig en alleen.
FASE 3: Aanpassing.
Jy het kultuurskok suksesvol hanteer wanneer jy Fase 3 bereik. Dit is wanneer jy die negatiewe dinge van die vreemde land waarin jy bly raaksien, maar nie toelaat dat dit jou negatief beinvloed nie. Jy neem deel aan aktiwiteite saam met ander en geniet jou ervaring in die vreemde. Jy het aangepas by jou omgewing en al mis jy jou familie en vriende in SA, het jy soveel ander wonderlike dinge om jou dat jy nie elke dag wens om huis toe te gaan nie.
As jy weet hoe die fases opmekaar volg, kan jy jouself help om aan te pas in Londen. Onthou: party dae gaan dit maar net sleg, maak nie saak of jy in SA of in Londen is nie. Doen iets wat jy weet jou beter gaan laat voel en moenie alleen by die huis sit en jammer voel vir jouself nie - jy kan dit maak!
Bring jou geld saam in hoofsaaklik reisigerstjeks (in ponde, natuurlik) en dan so 'n klein bietjie in kontant sodat jy darem 'n treinkaartjie op die lughawe kan koop. Reisigerstjeks bied jou die meeste sekuriteit; as hulle gesteel word, sal die uitreiker van die tjeks jou vergoed vir die verlore bedrag. Othou die volgende: skryf al die reeksnommers neer, of nog beter, maak fotokopieë van jou tjeks en hou rekord van presies watter tjeks jy al gewissel het. Hou hierdie rekords apart van die tjeks self sodat hulle nie saam verlore raak nie. 'n Goeie idee is om die kopieë en die noodtelefoonnommer by iemand by die huis te los. Moenie enigsins die tjeks vir die tweede keer teken voordat jy hulle wissel nie, jy MOET dit voor die agent doen wanneer jy die tjek wissel. Jy sal ook jou paspoort moet wys, so wees voorbereid. Daar is duisende plekke waar jy reisigerstjeks kan wissel in Londen, sommige van hulle is selfs 24 uur per dag oop. Kyk na hulle uithangborde om te sien hoeveel kommissie hulle vra. Kyk uit vir jou tjeks se uitreiker se agente, bv American Express of Thomas Cook.
Die lewenskoste in Londen is ontsettend hoog, dit is nou maar hoe dit is. Probeer maar so gou as moontlik om jouself by die nuwe geldeenheid aan te pas en moenie die heeltyd in Rande dink nie So hoeveel geld moet mens saam neem? Natuurlik hoe meer jy kan saamvat, hoe beter! Dit gee jou so 'n bietjie gemoedsrus as genoeg geld het om jou te buffer as jy dalk nie onmiddelik werk kry nie. Onthou dat jy 'n deposito en een maand se huur sal moet betaal wanneer jy 'n plek kry om in te bly. En dan gaan jy geld nodig hê om te eet en vir vervoer en vir daardie onverwagte kostes wat maar altyd opduik.
Wees ook uiters versigtig met huis toe bel. Koop 'n telefoonkaart en spaar jou geld!
Bankrekeninge: Dit kan ietwat moeilik wees om 'n bankrekening oop te maak as 'n vreemdeling in Engeland. Natuurlik maak dit sin gesien van die bank se oogpunt; jy as pasaangekome reisiger sonder werk lyk miskien nie noodwendig na baie goeie besigheid nie, veral as jy nie baie geld het om in jou nuwe rekening te deponeer nie. Dit plaas jou in 'n moeilike situasie want baie werkgewers vergoed hulle werkers op een manier: hulle betaal jou geld in jou bankrekening in.
Dit is handig om na 'n personeelagentskap te gaan, aangesien hulle baie dikwels jou sal kan help om 'n bankrekening oop te maak by hulle bank. Bring 'n brief saam van jou bank wat vertel van jou goeie bankrekord by hulle.
Daar is gelukkig so baie Suid-Afrikaners in Londen dat daar al vele sosiale strukture bevestig is en dit is nie moelik om by een of meer van hulle in te skakel nie. Hier is die name en adresse van 'n paar Suid-Afrikaanse kerke:
Hillsong Church - www.hillsong.co.uk
Regent's College, Regent's Park, Baker Street TubeSA Gemeente - www.sagemeente.com
Besoek asseblief hulle webwerf vir meer inligting oor die erediensteHis People
The Reynolds Building, Imperial College Medical Campus, St. Dunstan's Rd, Hammersmith, LondonGereformeerde Kerk in Londen
Draaipunt - www.draaipunt.com
Poskantore, Internetkafees en die Telefoon
Poskantore
Poskantore is baie vaartbelyn in Engeland. Vir pos in Engeland, kan jy 'n eersteklas of 'n tweedeklas seël koop. Met 'n eersteklas seël sal die brief nog dieselfde dag in Londen by die adres afgelewer word. Met 'n tweedeklas seël sal jou brief die volgende dag afgelewer word. Dit is redelik goedkoop om pakkies te stuur solank hulle lig is. Kry 'n pamflet by die poskantoor wat die pryse en gewigte uitlê. Wees versigtig om pakkies SA toe te stuur; menige pakkies is al weg in Engeland maar het nooit by hulle adresse in SA aangekom nie.
Daar is gelukkig honderde Internetkafees in Londen. Vergeleke met die hoë telefoonpryse, is dit miskien beter om via e-pos kontak te hou met die mense by die huis.
Telefoonkaarte: British Telecom (BT) se pryse is hoog. Dit is baie goedkoper om 'n telefoonkaart te koop by supermarkte of kafees. Jy koop 'n kaart en krap die silwer gom af om jou pinnommer te kry. Bel die tolvry nommer op die kaart, sleutel jou pinnommer in en bel daarna jou internasionale nommer. So bly jy in beheer van jou telefoonkostes.
Boots: Hier koop jy al jou kosmetiese- en apteekware. Af en toe het hulle briljante spesiale aanbiedings. Die groter winkels verkoop ook toebroodjies en koeldranke vir middagete.
Tesco's, Safeway, ASDA, Sainsbury's: Hierdie is die supermarkte soos Pick n' Pay en Checkers in Suid-Afrika waar jy al jou kruideniersware kan koop.
H&M, Topshop: Klerewinkels met redelike goedkoop en modieuse klere
Marks & Spencer: Die moeder van ons Woolworths.
Woolworths: Woollies in Engeland is meer soos Clicks in SA in die sin dat hulle musiek, houshoudelike ware en elektriese toestelle, skryfbehoeftes en skoonheidsmiddels verkoop. Daarby verkoop hulle ook klere, skoene, hardeware, speelgoed en lekkergoed. Hulle is goedkoper as Marks & Spencer en die kwaliteit is miskien ietwat laer.
Londen het drie lughawens: Heathrow, Stanstead en Gatwick. Die meeste internasionale vlugte land op Heathrow. Af en toe is dit moontlik om supergoedkoop vlugte Europa toe te kry wat van Stanstead of Gatwick af vertrek.
Nou-net aangekom op Heathrow?Die goedkoopste manier om in Londen te kom is met die Tube. Gelukkig is alles baie goed aangedui in die lughawe; volg net die aanwysings vir die 'Underground'. Koop vir jou 'n kaartjie of by die automatiese masjien of by een van die bemande hokkies. Jy moet ten minste 'n vae idee hê van waarheen jy wil gaan wanneer jy jou kaartjie koop. As jy nog nie weet nie, is dit miskien die beste om Sone 1 toe te gaan, dan is jy in die middel van Londen en kan jy van daar af besluit.
Voor jy gaan!| Nuus |
| Ekonomie |
| Britse rentekoerse bestendig gehou op 5% vir Augustus. 08/08/2008 |
| nog >> |
| Britse Immigrasie |
| Nuwe beoogde regulasies vir Vlak 4, Studente visums gepubliseer. 01/08/2008 |
| nog >> |
| Migrante |
| Migrante in die VK moet hul reg om te bly verdien. 15/07/2008 |
| nog >> |
| Breytenbachs Suid-Afrika |
| Skakel Breytenbachs SA vir twee jaar werkvakansie visums by (+27) 12 460 9959 |
| Julle vra, ons antwoord |
| 'Ek het gerugte gehoor dat die
gewilde twee-jaar werksvakansie opgeskort gaan word en
dat Suid-Afrikaners nie vir die nuwe skema sal kan
aansoek doen nie. Is dit waar?' Lees hier al die nuutste vrae en antwoorde oor knelpunte. |
| nog >> |
| Wat ons kliënte sê |
| Net 'n kort nota van dank aan die hele Breytenbachs span. Nie net die raad en advies aan die begin nie, of die deeglikheid van elke persoon nie, maar ook die terugvoer wat ons deurgaans van julle af gekry het. Ek weet dit gaan druk daar by julle, maar die geduld om 'n angsbevange vraag te beantwoord of ten minste altyd vinnig op boodskappe of e-mails te antwoord het nie ongemerk verby gegaan nie. Phoebus van Deventer
Wil jy weet of jy kwalifiseer vir 'n Britse visum of werkspermit? Kliek hierso! |
| Teken in op Nuusbrief |
|
|
| © Breytenbachs. 2004 | Vrywaring | Regulated by the Law Society |